2. 1
Amerindies
Opgedra aan Sheree Rayfield
en met dank aan Juan Janse van Vuuren
Pieter Uys
Orchards
April 2021
Voorblad: Die Key Marco Cat, ʼn houtfiguur van Florida Sipres,
is deur die Calusa-mense van die Golf van Meksiko gemaak.
3. 2
Inhoudsopgawe
Inleiding 3
Andies vs Amasonies 4
Mapudungun 6
Aymara 8
Quechua 11
Tale van Titicaca 13
Guaraní 14
Die Meso-Amerikaanse Sprachbund 16
K’iche’ 18
Literatuur van die Maya 19
Sierra Popoluca 21
Die Taal van die Olmecs 24
Proto-Mije-Soke-woorde in Meso-Amerikaanse tale 27
Purépecha 28
Die Staat van Tarasco 30
Náhuatl 32
Cherokee 34
Lakota 36
Die Amerindiese Tale 40
Verwysings 48
Top Tien inheemse tale van die Amerikas en van die VSA 49
Bibliografie 50
Indeks 52
4. 3
Inleiding
Amerindies is ʼn huldeblyk aan Joseph H Greenberg (1915 – 2001) en Merritt Ruhlen (1944 – 2021).
Die legendariese antropoloog en linguïs Greenberg het in die 1950s internasionale roem verwerf met sy
sensasionele klassifikasie van Afrikatale. In sy finale taksonomie van 1963, het hy die meer as 1,200 tale
van Afrika binne net vier families geklassifiseer. Een van sy prestasies was sy ontdekking dat die Ntu-tale
wat so ʼn wye verspreiding oor sentraal-, oos- en suidelike Afrika het, net ʼn subgroep is van ʼn groter
familie met lede in Wes-Afrika en Kordofan, Soedan. Aanvanklik is sy klassifikasie hewig deur Afrikaniste
gekritiseer maar dit dien nou as die hoeksteen van historiese linguïstiek in Afrika.
Sy artikel "Some Universals of Grammar with Particular Reference to the order of Meaningful Elements"
(1962) het ʼn klassieke werk op die terrein van taaltipologie geword en is steeds een van die mees
aangehaalde artikels in die linguïstiek. Die vier-volume “Universals of Human Language” is deur Greenberg
geredigeer en in 1978 deur Stanford University Press gepubliseer.
Die twee volumes van Greenberg se finale werk, "Indo-European and its Closest Relatives: The Eurasiatic
language family, " het in 2000 en 2001 verskyn.
In sy mees omstrede boek, “Language in the Americas” (1987), het Greenberg die tale van die Amerikas in
net drie families geklassifiseer. Benewens Na-Dene en Eskimo-Aleut, het hy Amerind as een familie
identifiseer. Die woede wat dit ontketen het, kan vergelyk word met die woede teen Darwin se bevindinge.
Skaars ʼn jaar na publikasie, het ʼn professor van genetika, Luigi Luca Cavalli-Sforza bevind dat die
bevolkings van die Amerikas geneties in dieselfde drie groepe val as die taalgroepe wat Greenberg
identifiseer het.
Die antropoloog en linguïs Merritt Ruhlen (1944 – 2021) was die mees prominente advokaat en
ondersteuner van Joseph Greenberg se werk. Hy was op die voorpunt van inisiatiewe om die bevindinge
van historiese linguïstiek met ander menswetenskappe soos genetika en argeologie te koördineer. Sy
spesialisvelde was multilaterale taalvergelyking, die Amerindiese taalphylum, die Indo-Pacific-taalfamilie,
die verbintenis tussen die Yenisei-tale van Siberië en Na-Dene van Noord-Amerika, sowel as navorsing oor
die monogenesis van taal en Proto-Sapiens. In dié verband het hy vir drie dekades met die genetikus
Cavalli-Sforza en die argeoloog Colin Renfrew saamgewerk.
Pieter Uys
Orchards
April 2021
5. 4
Andies vs Amasonies
Anders as in Meso-Amerika, bestaan daar nie ‘n Sprachbund in Suid-Amerika wat so duidelik omskryf
is as die Meso-Amerikaanse een nie.
Sowat 15 miljoen mense praat Andiese tale. Die Andiese familie het meer sprekers as al die ander
Amerindiese families saam, en sluit in tale soos Aymara, Patagon, Quechua (Kechwa) en
Mapudungun (Araukanies) wat in Ecuador, Peru, Bolivië, Chile en Argentinië gepraat word. Die
familie word ook Hoogland- of Westerse Suid-Amerindies genoem.
Die kenmerkende Amerindiese N : M patroon vir die
eerste en tweede persoonlike voornaamwoorde val
mens dadelik op, soos Quechua noqa / qam en
Mapudungun iñche / eymi. (In Eurasië is die
kenmerkende patroon M : T/S).
In die werkwoord gebruik Andiese tale hoofsaaklik
suffikse om die agent, pasiënt, onderwerp, voorwerp,
aspek en tyd te merk, ‘n eienskap wat met Eurasiatiese
groepe ooreenstem.
In die ooste van die kontinent gebruik tale soos Arawak,
Macro-Jê, Carib en Tupi hoofsaaklik prefikse vir
voorvermelde doeleindes. Verder beskik die tale in die
Andiese groep gewoonlik oor minder klinkers maar
heelwat meer konsonante as die Oosterse of
Amasoniese families.
Aymara en Quechua bied ‘n interressante voorbeeld van veelvlakkige bilaterale taalkontak. Albei
groepe is oorwegend SOV met nominatief-akkusatiewe instelling, en ‘n reëlmatige morfologiese
struktuur wat op aglutinerende suffiksering gebou is.
Fonologies stem hulle ook ooreen, soos wat duidelik blyk wanneer die rekonstruksies van hulle
prototale vergelyk word. Die foneem-inventarisse is dieselfde behalwe vir die glottale en
geaspireerde konsonante in Proto-Aymara.
Quechua het meer naamwoord-uitgange en affikse om naamwoorde te skep as Aymara. By die
werkwoord is die situasie omgeruil: Aymara het meer werkwoord-affikse, veral vir die ekspressie van
ruimtelike kategorieë.
6. 5
Op leksikale vlak deel hulle ‘n woordeskat wat teruggaan na die prototale. Meer as 20% van die
gerekonstrueerde leksikon het identiese vorme, met inbegrip van kernwoorde soos /nina/ ‘vuur’,
/warmi/ ‘vrou’ en /apa-/ ‘om te dra’.
Mapudungun se ooreenkomste met Quechua en Aymara kom uit die verre verlede, soos die
stamme /t_ʃaŋ/ ‘been’, /tapɨl ‘blaar’, en /moŋkol/moŋkoʎ/ ‘rond’ aandui.
Bron:
Pache, Matthias. 2014. Lexical Evidence for Pre-Inca Language Contact of Mapudungun (Mapuche) with
Quechuan and Aymaran. Universiteit Leiden. Journal of language contact 7 (2014) 345-379
7. 6
Mapudungun
Andies
Sowat 300,000 mense praat Mapudungun, saamgestel uit mapu ('land') en dungun (‘taal’). Die
term "Huilliche" (mense van die suide), "Pehuenche" (mense van die berge), "Lafquenche" (mense
van die kus), en "Picunche" (mense van die noorde) word onderling gebruik om na streke te
verwys.
8. 7
Die sprekers van Mapudungun woon hoofsaaklik in
Chile se Arauco-, Biobio-, Malleco-, Cautín-, Chiloé en
Valdiviaprovinsies, en in Argentinië in Neuquén en
langs die Rucachoroi- en Quillénmeer in Patagonië.
Hulle Chileense woongebied is skilderagtig mooi, ‘n
landskap van watervalle en mere met die sneeubedekte
Andesgebergte in die agtergrond. In die lente en somer
word die lowergroen omgewing aangevul deur
veldblomme en bome vol bloeisels.
Mapudungun toon strukturele, fonologiese en
fonotaktiese ooreenkomste met die Quechua- en
Aymaratale. Tydens die Inkaryk het Mapudungun
heelwat woorde by die voorvermelde tale geleen.
Ses vokale [a, e, i, o, u] en [ɨ] en 22 konsonante, almal
stemloos, vorm die fonemiese inventaris.
Selfstandige naamwoorde word in twee klasse verdeel: Lewend/nie-Lewend. Die
voornaamwoordstelsel bestaan uit iñche 'ek', iñchiw'we (ons twee)', iñchiñ'we (ons meer as twee)';
eymi 'jy', eymu ('julle twee)', eymün (julle meer as twee)'; fey 'hy/sy/dit', feyengu '(hulle twee)',
feyengün hulle (meer as twee)'.
Mapudungun is ‘n aglutinerende taal wat tot ses morfeme in werkwoorde gebruik, in die vorm van
suffikse wat die persoon en getal van die onderwerp aandui, sowel as die voorwerp, tydvorm,
aspek en negering. Modale vorme van die werkwoord sluit in indikatief, voorwaardelik, en
imperatief, terwyl die aspektuele onder meer ‘n reeks ruimtelike afleidings bevat, soos “weg vd
spreker, na die spreker”, “beweging ver van die spreker” sonder vorige verwysing, sowel as
sirkulêre beweging.
Die eerste grammatika van Mapudungun is in 1606 gepubliser, in 1765 het ‘n woordeboek gevolg
en in 1777 nog ‘n grammatikawerk.
9. 8
Aymara (Aymar aru)
Andies
Die Aymaratale bestaan uit Aymara van Bolivië, en Jaqaru en Kawki van Peru.
Sowat 2,5 miljoen Aymara-sprekers woon op die Altiplano, die hoë plato rondom Titicaca-meer in
die suide van Peru en noordweste van Bolivië. Kleiner getalle woon in Chile en Argentinië. Die stad
La Paz in Bolivië is hoofsaaklik Aymara – die voorstad El Alto word as die hoofstad van die Aymara
beskou.
Die Altiplano lê tussen twee massiewe bergreekse van die Andes, op ‘n hoogte van tussen 3,800
m en 4,100 m bo seespieël. Dis die area waar die Andes op sy breedste is – na Tibet, is dit die
10. 9
grootste hoogplato op aarde. Bolivië het die grootste deel daarvan, maar die plato strek verder
noord na Peru en suid na Argentinië en Chile.
In Quechua word dit ‘Collao’ genoem, en in Aymara, ‘Qullaw’, (plek van die Qolla), sedert die
Inkaryk, toe die provinsie as Qollasuyu bekend gestaan het. Die Titicaca-meer wat deur Peru en
Bolivië gedeel word, beslaan 8,290 km2 en het ‘n oewer van 700 km. Dis die hoogste bevaarbare
meer ter wêreld.
Die twee hoofdialekte is Sentrale en Suidelike Aymara. Onder die subgroepe is die Qolla, Lupaka,
Kanchi, Karanka, Kana, Pacaxe, Killaka, Ubina, Aullaga en Omasuyo.
Geen fonemiese kontras bestaan tussen sluitklanke sonder stem [p] of met stem [b]) nie, maar
elkeen kan op drie maniere artikuleer word: gewoon (tenuis), met glottalisering, en geaspireerd.
Aymara het ‘n alveolare/palatale kontras vir die laterale en nasale klanke, sowel as die semiklinkers
(/w/ en /j/). Die drie fonemiese klinkers is /a/, /i/ en /u/ wat kort en lang variante het.
Aymara is ‘n aglutinerende en uitsluitlik suffikserende taal, met naamwoord-, werkwood- en
onafhanklike agtervoegsels. Veertien naamvalle verbuig die naamwoord. Tot nege
agtereenvolgende suffikse kan aan ‘n woord geheg word, en die woordorde is SOV.
11. 10
In sekere opsigte tree Aymara soos ‘n infleksionele taal op, waar die persoons- en tyds-uitgang
deur ‘n enkele suffiks onderskei word. Die teenwoordige tyd en die onlangse verledetyd word as
definitief beskou, terwyl die toekomstige en verre verlede as onseker beskou word.
Die Aymara-werkwoord bied ‘n indrukwekende reeks nuanses in sy uitgange, soos byvoorbeeld of
die spreker ‘n aksie sien plaasvind het of nie; selfs bespiegeling kan in die werkwoord aangedui
word. Verder is daar die kousatief, refleksief-resiprokaal, en vorms vir ruimtelike rigting. Die
modaliteite sluit in evidensialiteit, gebeurtenis-modaliteit en imperatief.
Aymara en Quechua deel ‘n enorme leksikon, en Spaans is die vrugbaarste bron van leenwoorde in
Aymara.
Die eerste Aymara-grammatika en woordeboek is in 1612 deur die Jesuïtepriester Ludovico
Bertonio uitgegee.
12. 11
Quechua (Runa Simi)
Andies
Quechua is by verre die Amerindiese taalgroep met die meeste sprekers; dit word in Peru, Bolivië,
Ecuador, Colombië en Argentinië gepraat deur sowat 12 miljoen mense. Die Boliviese laaglande en
die stad Cochabamba is hoofsaaklik Quecha-sprekende gebiede. Quechua is ‘n amptelike taal in
Bolivië, Ecuador en Peru met ‘n teenwoordigheid op radio- en TV.
• Sentrale Quechua (Waywash) word in die sentrale hoogland en op die kus van Peru gepraat,
en bestaan uit Huaylas, Huaylla Wanca en Conchucos.
• Wanp'una, in die noordelike berge van Peru; die grootste dialek is Cajamarca.
• Kichwa word in Ecuador, noordelike Peru en Colombia gepraat (Inga Kichwa) en sluit
Chimborazo Hoogland Quichua en Imbabura Hoogland Quichua in.
• Suidelike Quechua in Bolivië, Chile, suidelike Peru en noordwestelike Argentinië, met die
hoofdialekte Cusco (Qheswasimi, Runasimi), Ayacucho, en Puno (Collao).
• Lank voor die uitbreiding van die Inkaryk het Quechua reeds oor die sentrale
Andesgebergte versprei, en dit was die amptelike taal van die Inkaryk 1438 – 1533. Dis tot
die 18de eeu deur die Spanjaarde bevorder Die Rooms Katolieke Kerk het die taal vir
evangelisasie gebruik. Die sendeling Domingo de Santo Tomás het in 1560 die eerste
Quechua-grammatika gepubliseer.
13. 12
Proto-Quechua het drie vokale /u/, /a/ en /i/ gehad, en /i/ en /a/ is as /e/ en /o/ voor die keelklank
/q/ uitgespreek. Weens kontak met Spaans het die meeste dialekte vandag ook /e/ en /o/ as
fonemiese elemente. Die konsonante was almal stemloos.
Quechua is ‘n nominatief-akkusatiewe aglutinerende taal wat van suffikse gebruik maak, met sewe
naamvalle. Persoonlike voornaamwoorde sluit eerste / ñoqa/, tweede / qan/ en derde /pay/ /
persone enkelvoud en meervoud in. Die eerste persoon meervoud het ‘n inklusiewe /ñoqanchis/
(Ons en jy) en eksklusiewe /ñoqayku/ (Ons sonder jou) vorm.
Alle werkwoordstamme eindig op ‘n klinker, is reëlmatig en word op dieselde wyse vervoeg. ‘n
Suffiks wat persoon en getal merk, word vereis, terwyl die tydsvorm, aspek en modaliteit opsioneel
is. Besit word deur besitlike merkers aangedui wat aan die voorwerp geheg word.
Die vervoegings sluit kousatief, applikatief, refleksief, wedersyds en desideratief in,
Die woordorde is vry hoewel SOV verkies word, en sintaktiese verhoudings word deur die
naamvalle en agtervoegsels aangedui.
14. 13
Tale van Titicaca
Titicacameer het sy eie taalkundige demografie. Pukina en Leco is uitgestorwe tale van die gebied
rondom die meer, terwyl Kallawaya ‘n geheime taal is wat deur tradisionele genesers gebruik word.
Die Uru of Uro (Qhas Qut Suñi) wat op drywende vlotte op die meer naby Puno, en langs die
Desaguaderorivier woon, se taal Uchumataqu het rondom 2010 uitgesterf. Hulle praat nou die
verwante Chipayataal wat ook op die dorp Chipaya in Sabaya-provinsie gepraat word. Die sprekers
van Chango, wat op die kus van Chile, van Huasco tot by Cobija in Antofagastaprovinsie gepraat is,
het na Mapudungun oorgeslaan.
Sowat 4,000 Quechua-sprekers woon in tien dorpies op die eiland Amantani van sowat
15 km2 (6 vk myl). Twee heuwels, Pachatata (Vader Aarde) en Pachamama (Moeder Aarde) bevat
antieke ruines.
Sowat 2,200 sprekers van Puno Quechua woon op die eiland Intika, wat ‘n area van 5.72 km2 (2.21
vk myl) beslaan.
Agt honderd Aymara-gesinne bewoon Isla del Sol, een van die grootste eilande op Titicaca, met
volop ruïnes uit die Inkatyd soos ‘n heilige rots en die tempels Chicana, Kasa Pata en Pilco Kaima.
Nog ‘n Aymara-eiland is Isla de la Luna, oos van Isla del Sol, wat die ruines van ‘n tempel van die
Tiwanaku-beskawing bevat.
15. 14
Guaraní
Tupi
Equatorial-Tucanoan
Guaraní, ‘n amptelike taal van Paraguay, is lid van die Tupi-familie en verwant aan die Karibbiese en
Macro-Jê-families. Guaraní word oor ‘n uitgebreide gebied suid van die Amasonerivier tot in
Argentinië gepraat, en van die Boliviese Andes in die weste tot by die Atlantiese Oseaan in die ooste.
Die Tupi-familie bestaan uit sowat 70 tale wat in
Brasilië, Bolivië, Franse Guyana, Peru en Paraguay
gepraat word. Die Proto-Tupi tuisland was waarskynlik
tussen die Guaporé- en Aripuanãriviere, wat
hoofsaaklik in die Rondônia-provinsie van Brasilië lê.
Guaraní het min of meer agt miljoen sprekers. Die
meeste Paraguayane is tweetalig in Guaraní en
Spaans. Guaraní is ook ‘n erkende tweede taal in die
Corrientesprovinsie van Argentinië.
Die taal het nasale klinkers, genasaliseerde
konsonante en nasale harmonie. Die twaalf klinkers is
/a/, /e/, /i/, /o/, /u/ /ɨ/ en hulle nasale ekwivalente.
Afhangende van dialek is daar 17 – 19 konsonante.
Guaraní is ‘n aglutinerende en polisintetiese taal wat
beide prefikse en suffikse gebruik. Die werkwoord neem prefikse vir die subjunktief en imperatief,
en vir die kousatiewe, refleksiewe, resiprokale vorm, behalwe die kousatief van oorganklike
werkwoorde. Aspek en tydsaanduiding sluit in teenwoordige tyd, die progressiewe aspek, verre
verlede, perfektief, toekoms en onmiddellike toekoms.
Die naamvalle van selfstandige naamwoorde word deur suffikse of agtervoegsels gemerk.
Voornaamwoorde verskyn in onderwerp-, besittings-, direkte voorwerp en indirekte voorwerp-
vorme. Die eerste persoon meervoud (ons) het ‘n inklusiewe en eksklusiewe vorm.
Guarani is ‘n aktief-statiewe taal waar oorganklike werkwoorde aktief is terwyl onoorganklike
werkwoorde aktief of statief kan wees. Die onderwerp van ‘n onoorganklike klousule word soms op
dieselfde manier gemerk as die agent van ‘n oorganklike werkwoord (ek, hy) en soms as die
direkte voorwerp (my, hom). Die vorm word bepaal deur die mate van beheer wat deur die
deelnemer uitgevoer word. Om te sê dat iemand gestruikel en geval het, sal Guaraní dit uitdruk as
“geval hom” want “hy het geval” sou beteken dat die persoon met opset geval het.
16. 15
Spaans en Guaraní leef al vir 400 jaar saam, en in Paraguay is baie leenwoorde tussen die twee
uitgeruil. Die woorde jaguar, tapioca en toucan kom van Guaraní.
Die heel eerste grammatika is in 1640 deur die Jesuit Antonio Ruiz de Montoya gepubliseer. Vandag
is daar TV- en radioprogramme, supplemente in koerante en toneelstukke in Guaraní.
Bron:
Jenner, Frances. Paraguay’s Guaraní language is flourishing but its indigenous people are not: Legislation
protecting the Guaraní language reveals a double-standard in the government's approach to the Guaraní
people. Latin America Reports May 6, 2019.
17. 16
Die Meso-Amerikaanse Sprachbund
‘n Sprachbund of ‘n linguïstiese konvergensie-area is ‘n versameling van aangrensende tale wat
strukturele ooreenkomste toon wat te wyte is aan geografiese nabyheid en taalkontak; die tale
moet geneties onverwant wees, of net verlangs verwant, en die Sprachbund-eienskappe mag ‘n
valse indruk van verwantskap skep.
‘n Groep tale wat eienskappe deel kan net as ‘n Sprachbund omskryf word indien die eienskappe
gedeel word om ander redes as die genetiese geskiedenis van die tale. Om tale te probeer
klassifiseer sonder kennis van die geskiedenis van die tale kan tot die wanklassifikasie as ‘n
Sprachbund lei, en sommige Sprachbunds kan verkeerdelik as taalfamilies geklassifiseer word.
Lede van die Amerindiese makrofamilies Chibchan-Paezan, Hokan, Penutian en Sentrale Amerind
word in Meso-Amerika aangetref, insluitende die Maya- en Mije-Sokean-tale en Purépecha, wat
nie werklik deel daarvan is nie.
Die tale van die Meso-Amerikaanse Sprachbund sluit die volgende eienskappe in:
• ‘n Totale afwesigheid van werkwoord-finale basiese woordorde hoewel daar volop SOV-tale
aan die noorde en suide van die gebied is. En al die ander moontlike kombinasies kom daar
voor: VSO in Nahuatl, Mixtec en Zapotec, VOS in Otomi en in Mayatale en SVO in Mazatec
en Huave.
• Alle Meso-Amerikaanse tale gebruik relasionele naamwoorde om ruimtelike en ander
verhoudings aan te dui, soortgelyk aan voorsetsels in Afrikaans maar bestaande uit ‘n
naamwoord plus besittings-affikse, soos “sy-hond die man.”
18. 17
• ‘n Generiese relasionele partikel wat soos ‘n generiese voorsetsel optree, byvoorbeeld “op
my” (my kop) en “in die kamer” (in-sy-maag-die-kamer).
• ‘n Fenomeen wat uiters raar buite Meso-Amerika is, ‘n spesiale woordorde by W-vrae (wat?,
waar? en wie?).
• Semantiese Leenvertaling-samestellings – die woord vir spesifieke voorwerpe word geskep
deur twee verskillende stamme saam te voeg, bv been + kop = knie.
• Vigesimale telwoordstelsels wat op 20 gebaseer word (net soos die desimale stelsel op 10
gebaseer is). In Europa gebruik Frans, Deens, Wallies en Skotse Gaelic dié stelsel, of
elemente daarvan.
• Ander kenmerke wat gereeld voorkom maar nie universeel is nie, sluit in:
Sommige tale onderskei inklusiewe en eksklusiewe voornaamwoorde in die eerste persoon
meervoud (ons en jy) vs (ons sonder jou). In die werkwoordstelsel is aspek belangriker as tyd
(tense), en die copula (die werkwoord “is”) word nie gebruik nie. Kontrasterende stemhebbende
sluitklanke, frikatiewe, geaspireerde sluitklanke en affrikate is raar.
Bron:
Meso-America as a Linguistic Area. Author(s): Lyle Campbell, Terrence Kaufman, Thomas C. Smith-Stark
Source: Language, Vol. 62, No. 3 (Sep., 1986), pp. 530-570 Published by: Linguistic Society of America
Stable URL: http://www.jstor.org/stable/415477
https://www.languagesgulper.com/eng/Mesoamer.html
19. 18
K’iche’
Maya
Penuties
Die Mayatale word deur minstens sewe miljoen
mense in Sentraal-Amerika gepraat, hoofsaaklik in
Meksiko, Guatemala, Belize, El Salvador en
Honduras. Mayatale vorm deel van die Meso-
Amerikaansse Sprachbund, ‘n streek van
linguïstiese samevloeiing wat deur millennia van
interaksie tot stand gebring is.
Die vyf subfamilies van Maya is
• Ch'ol-Tsotsil
• Huastec
• Yucatecan
• Chujean-Kanjobal
• Quichean-Mam
Die moderne Mayatale stam af van Proto-Maya
wat sowat vyfduisend jaar gelede gepraat is. In
die verre verlede (rondom 2000 VHE) het daar ‘n
toevloei van leenwoorde uit die Mije-Soke-familie
na die Proto-Mayafamilie plaasgevind.
Sowat 30 tale vorm Maya, een van die deeglikste
gedokumenteerde taalfamilies van die Amerikas. Die Mayataal met die meeste sprekers is K’iche’ in
Guatemala met 2.3 miljoen, gevolg deur Yucatec met 800, 000 in die Meksikaanse deelstate
Yucatán, Quintana Roo en Campeche.
Derde op die lys is Q’eqchi’ van oostelike Guatemala en suidelike Belize met sowat 700,000
speakers. Mam is vierde met 500,000 sprekers in Meksiko en Guatemala, Tzeltal is vyfde met
450,000 en Tzotzil sesde met 420,000, albei in Chiapas, Meksiko.
K’iche’ is die Amerindiese taal met die meeste sprekers in Meso-Amerika, en word gebruik in die
media. Alle Mayatale is ergatief-absoluut, en die woordordes VOS, SOV, SVO en VSO word almal
gebruik. Werkwoorde is morfologies kompleks en neem beide pre- en suffikse.
20. 19
Mayatale gebruik geglottaliseerde konsonante (ejektiewe sluitklanke), wat gewoonlik geskryf word met ‘n
apostroof na die simbool, bv /p’/, /t’/ en /k’/. By ‘n ejektief word lug uit die mond eerder as die longe vir
artikulering gebruik. Die klinkers is d /i/, /e/, /a/, /o/, /u/ en sommige tale het ook /ə/.
Literatuur van die Maya
Die Popol Vuh (Boek van die Mense) is ‘n teks oor die mitologie en geskiedenis van die Kʼicheʼ. Dit
sluit die skeppingsmite van die Maya in, die avonture van die tweeling Hunahpú and Xbalanqué, ‘n
kroniek van die Kʼicheʼ-mense en die dinastieë van hulle koningshuis. Dis eers mondeling oorgedra
en rondom 1550 op skrif gestel deur Francisco Ximénez.
Die eerste deel beskryf hoe Tepeu, god van die lug en Gucamatz, god van die see, die aarde, diere
en mens geskep het. In die tweede deel word die storie van die voorvermelde tweeling vertel:
hulle daal af na die onderwêreld, en kom daar uit om die son en die maan te word. Die derde deel
handel oor die skepping van die eerste vier mense en hulle vroue, en hoe hulle vuur by die god
Tohil verkry het.
21. 20
Die laaste deel vertel die geskiedenis van die vroeë konings en van mitiese figure soos Geveerde
Slang, ‘n sjaman wat ‘n dierevorm kon aaneem, en in die hemel sowel as die omderwereld kon reis.
Die boeke van Chilam Balam [t͡ʃilam ɓahlam] is handgeskrewe manuskripte wat uit die 17de en
18de eeue dateer. Hulle bewaar belangrike tradisionele kennis en handel oor geskiedenis, profesie,
religie, ritueel, letterkunde, die kalender, astronomie en medisyne. Dit is in die Yucatec-taal met die
Latynse alfabet geskryf
Chilam (priester) Balam (‘n familienaam wat ‘jaguar’ beteken), is ‘n legendariese outeur.
Beide taal en konteks bewys dat dele daarvan tydens die Spaanse verowering van die Yucatec-
state geksryf is (1527–1546).
22. 21
Sierra Popoluca
Mije-Soke
Penuties
Die Mije-Soke-tale (Mixe-Zoque) word in die Landengte van Tehuantepec in Meksiko gepraat, in
die deelstate Chiapas, Oaxaca, Vera Cruz en Tabasco.
Die Landengte van Tehuantepec lê tussen die Golf van Campeche op die Golf van Meksiko en die
Golf van Tehuantepec op die Stille Oseaan. Die landengte is ‘n breë plato met ‘n warm klimaat,
waar reënwoude en moerasse in die noorde domineer terwyl die suide droër is.
23. 22
Die gebied se diverse geografie sluit die
Chimalapaberge, en bergreekse soos die
Sierra Madre del Sur, Sierra Madre de
Oaxaca en die Sierra Atravesada in, sowel as
die vrugbare pleine aan die noorde. Die
Papaloapan- en Coatzacoalcosriviere is die
grootstes wat na die Golf van Meksiko vloei.
Aan die kant van die stille Oseaan is die
Mixteco, Atoyac and Tehuantepec.
Mije-Soke is ‘n lid van Penuties, ‘n Amerindiese makrophylum met ‘n besonder wye verspreiding,
van die weskus van Kanada deur Kalifornië tot by die suidelike state van die VSA aan die kus van
die Golf van Meksiko, en tot by Guatemala.
Proto-Mije-Soke (Proto-MS) was die taal van Amerika se heel eerste beskawing, die Olmec (c.
1400–500 C.E) wat in Veracruz en Tabasco floreer het, en imposante monumente nagelaat het.
24. 23
Proto-MS het eers in Proto-Soke en Proto-Mije verdeel, en Proto-Soke was die bron van Chiapas-
en Oaxaca-Soke aan die een kant, en Golf-Soke aan die ander. Die epi-Olmec-tekste wat onder
meer by La Mojarra gevind is, is in Soke (Zoque) geskryf.
Die taalkundige Terrence Kaufman glo dat Proto-Mije-
Soke by Teotihuacan (Teotiwakan) teenwoordig was, en
dat Proto-MS verantwoordelik was vir baie van die
eienskappe wat die Meso-Amerikaanse Sprachbund
kenmerk.
Mije-Soke tale het honderde leenwoorde aan al die
Meso-Amerikaanse tale voorsien, soos byvoorbeeld
Pajalat (Coahuilteco), Yemé (Comecrudo), Wastekan,
Otomí, Tarasko (Purépecha), Matlatzinkan, Chinantekan,
Nawan (Nahuan) en Totonakan.
‘n Olmec-invloed is sedert 1,500 VHE in sentrale Meksiko waarneembaar, onder meer by Tlatilco en
Chalcatzingo.
Die regering van Meksiko erken drie amptelike Mije-Soke-tale, te wete Mije (ayüük ) met 190,000
sprekers, Soke met 120,000 sprekers, en die Popoluca-tale – Mije sowel as Soke – met 75,000
sprekers. Soke-tale word deur sowat 120,000 mense in Chiapas, Oaxaca en Veracruz gepraat,
waarvan ongeveer 40,000 Sierra Popoluca praat.
Sierra Popoluca het 12 klinkerfoneme: /i/ /ɛ/, /ɘ/, /a/, /u/ en /ɔ/) wat as kort en lank kan verskyn,
en 13 fonemiese konsonante. Sierra Popoluca is ‘n aglutinerende en polisintetiese taal wat 28
suffikse gebruik en val in die ergatief-absolute paradigma.
Bronne:
Kaufman, Terence. 2013. Olmecs, Teotihuacaners, and Toltecs: Language History and Language Contact in
Meso-America. University of Pittsburgh.
Roskamp, Hans. 2016. Tarascan (P'urhépecha) Empire. In book: The Encyclopedia of Empire by John M.
MacKenzie, Nigel Dalziel, Nicholas Doumanis, Michael W. Charney
Kaufman, Terence and John Justeson. 2009. Historical Linguistics And Pre-Columbian Mesoamerica. Dept of
Anthropology and Linguistics, 3302 WWPH, University of Pittsburgh, Pittsburgh; Department of
Anthropology, University at Albany, Albany, New York
25. 24
Die Taal van die Olmecs
Die Olmecs word as die hoeksteen van latere Meso-Amerikaanse beskawings soos die Maya,
Zapotec, Toltec en Teotihuacán beskou.
Die Olmec-beskawing het rondom 1,500 VHE na vore gekom in die Landengte van Tehuantepec.
Die eerste sentrum was by San Lorenzo, en later het La Venta, Tres Zapotes en ander gevolg, in die
hedendaagse Meksikaanse deelstate Veracruz, Tabasco, Mexico, Guerrero en Oaxaca.
Die Olmec het massiewe monumente opgerig, waaronder kolossale klipkoppe, stelae en
standbeelde. By Olmec-terreine is akwadukte gevind, en ‘n weelde van artefakte, waaronder
beeldjies, spieëls, borde en potte. Hulle het ook piramides gebou, en die Meso-Amerikaanse
balspel uitgevind, ‘n seremoniële spansport wat vir eeue lank onder latere kulture voortgesit is.
Verder was hulle die eerste sistematiese landbouers wat ‘n wye reeks gewasse gekultiveer het.
26. 25
Die laat-Olmec of epi-Olmec ( c 300 VHE – 259 HE) was ‘n kultuurarea in die hedendaagse
Veracruz, wat in die kom van die Papaloapanrivier floreer het. Tres Zapotes en later Cerro de las
Mesas was die grootste epi-Olmec sentra.
Die Olmec het ook piramides gebou, en die Meso-Amerikaanse balspel uitgevind, ‘n seremoniële
spansport wat vir eeue lank onder latere kulture voortgesit is. Verder was hulle die eerste
sistematiese landbouers wat ‘n wye reeks gewasse gekultiveer het.
Die laat-Olmec of epi-Olmec ( c 300 VHE – 259 HE) was ‘n kultuurarea in die hedendaagse
Veracruz, wat in die kom van die Papaloapanrivier floreer het. Tres Zapotes en later Cerro de las
Mesas was die grootste epi-Olmec sentra.
In 1976 het die linguïste Lyle Campbell en Terrence Kaufman aan die lig gebring dat ‘n spektrum
leenwoorde uit ‘n ouer vorm van die hedendaagse Mije-Soke (Mixe-Zoquean)-tale deur verskeie
ander tale van Meso-Amerika geleen is. Dit dui daarop dat Proto-Mije-Soke die taal van die
Olmecs was. Die leenwoorde het hand-aan-hand met ander kuns- en kultuur-elemente deur
Meksiko en Sentraal-Amerika versprei.
27. 26
Die name van plante en landboupraktyke is op ‘n vroeë stadium by Mije-Soke geleen. Onder die
leenwoorde is die woorde vir landbougewasse soos bone, tamaties, skorsies en kakao.
Hoe weet ons dat die woorde van Mije-Soke na ander tale versprei het? In die eerste plek het Mije-
Soke min leenwoorde uit ander tale; tweedens word Mije-Soke steeds in die hartland van die
Olmecs gepraat. Derdens kan mens leenwoorde in die ontvangtaal uitken op grond van die
verskille tussen die struktuur van die leenwoord en die struktuur van morfeme in die ontvangtaal.
Neem byvoorbeeld “aardvark”, die Afrikaanse woord wat deur Engels geleen is. In Afrikaans is
“aard-vark” ‘n samestelling, terwyl dit in Engels monomorfemies is.
‘n Woord wat nie by die ontvangtaal se fonologiese struktuur inpas nie, is waarskynlik ‘n
leenwoord. Proto-MS se *nas-oʔnaʔ 'mis, newel' (“aarde-wolk”) verskyn in die monosillabiese
Mayatale Tojolabal, Chuj, Jacaltek en Motozintlec as ʔasun, ʔason, en ʔaso'n – atipiese
tweelettergreep-woorde in Maya.
So ook /tunuk'/tuluk' “kalkoen” in die Mayatale Tzeltal, Tzotzil, Chuj, Jacaltec en Motozintlec van
PMZ *tuʔnuk, en koya “tamatie” in Cakchiquel, Tzutujil, Mam, Aguacatec en Chol, van PMZ *koya.
Dis betekenisvol dat sulke belangrike Meso-Amerikaanse gewasse soos bone, skorsies, tamaties en
kakao deur soveel Meso-Amerikaanse tale by Mije-Sokean geleen is. As die eerste
landboubeskawing in Sentraal-Amerika, maak dit sin dat die Olmecs se terme vir gewasse deur
ander tale geleen sou word. Die feit dat die Mayas en ander kulture dié terme geleen het, getuig
van die hoë aansien wat die sprekers van Proto-Mije-Soke in daardie era beklee het.
28. 27
Proto-Mije-Soke-woorde in Meso-Amerikaanse tale
Kakao: PMZ *kakawa: Mayatale /kakaw/; Nahua /kakawa/ het geen kognate in ander Uto-
Asteekse tale nie en kakao groei nie in die oorsprongsgebied van Nahua nie; Totonac
/kakaw/; Huave /kakaw/; Purechepa /kahekua/.
Tamatie: PMZ *koya: Chol /koya/; Mam /iško:ya/; Teco /ško:ya/; Cakchiquel, Tzutujil
/sko:ya/.
Patat: PMZ *mǝne: Totonac /manta/; Jicaque /mina/; Xinca /mula/; Chinantec /mɨ/;
Cuicatec /mi’i/.
Papaja: Copainala Zoque ʔot͡so; Xinca /uĉun/; Nahua /oĉonih-tli/; Ixcatec /tY
uĉu/.
Guava: Sierra Popoluca (Zoque) pátaŋ; Tzeltal /páta/; Tzotzil /póto/; klem op eerste
lettergreep ongewoon vir Mayatale.
Wierook: PMZ *po'mV; Mayan /po'm/; Xinca /pu:mu/; Totonac /pu˚m/; Tequistlatec /-
boma/; Huave /pom/.
Hond: PMZ *ʔukA, PMi *ʔok; Yucatec /ok/ 'hond' kalenderdag; Huastec /ok/ vos;
Kanjobalan Mayatale /ʔoq/ 'coyote',
By, Wespe: PMZ *ʔakaw; Sierra Popoluca (Zoque) /ʔokwoŋ/; Huastec /ʔokow/; Tzeltal,
Tzotzil, Tojolabal /ʔáko/; Mixtec /yoko/.
Ou man: PMi *naʔwa(y); Huave /neawǝneay/ towenaar; Nahua /nawal/ towenaar,
vormwisselaar, alter ego, /nanawatia/ om jouself in ‘n dier te verander; Proto-Chiapanec-
Mangue /*nu-hwa/ towenaar.
Bronne:
Cacao: How a Single Word Holds the Key to Understanding the Mesoamerican Past
http://nahuatlstudies.blogspot.com/2015/01/cacao-how-contested-history-of-single.html
Kaufman, Terrence and John Justeson. Epi-Olmec. In: The Ancient Languages of Asia and the Americas.
Edited by Roger D. Woodard. Cambridge University Press 978-0-521-68494-1 First published 2008
29. 28
Purépecha
Chibcha-Paez
Chibcha
Purépecha (Tarascan) het sowat 170,000 sprekers, en word in die deelstaat Michoacán in Meksiko
gepraat. Dit was die hooftaal van die Tarasco-beskawing in die tyd van die Asteke en die Maya
(circa 1400–1521). Uit die hoofstad Tzintzúntzan het die staat ‘n gebied van meer as 75,000 vk
kilometer beheer.
Michoacán is ‘n land van dennewoude, mere, riviere en watervalle. Meksiko se twee grootste
riviere, die Lerma en die Balsas, vloei daardeur. Zirahuénmeer beslaan 615 km2 en Pátzcuaro het ‘n
oppervlak van1,525 km2 met die eilande Yunuén, La Pacanda, Tecuén, Jarácuaro, Urandén en
Carián.
Die hartland van die taal is rondom Pátzcuaro-meer, maar die groter deel van die sprekers woon in
die westerse sierra in landelike gebiede rondom stede soos Zamora, Los Reyes de
Salgado, Paracho de Verduzco, en Pamatácuaro.
Purépecha is een van die min tale in Meso-Amerika sonder ‘n fonemiese stembandklapper, en met
geen laterale klanke nie, hoewel jonger sprekers die retrofleksiewe /ɽ/ met die Spaanse /l/ vervang.
30. 29
Tesame met die voorvermelde /l/ is daar 23
konsonante, hoewel /x/ net aan die begin, en /ɽ/
net in die middel van ‘n woord verskyn. Die ses
klinkers is /e/, /i/, /ɨ ( ï )/, /u/, /o/ en /ɑ/.
Purépecha is ‘n nominatief-akkusatiewe en
aglutinerende taal met volop voorbeelde van
fusie (infleksie), en gebruik sowat 160 suffikse. In
die werkwood is daar 13 aspekte en ses
modaliteite. Beide grammatiese naamvalle en
agtersetsels word gebruik. Woordorde is vry maar
SVO en SOV kom die meeste voor.
Hoewel die taal twee eienskappe daarmee deel,
vorm Purépecha nie deel van die Meso-Amerikaanse Sprachbund nie. Net die vigesimale
telwoordstelsel skakel in by die Sprachbund. Uit dertien wydverspreide metaforiese uitdrukkings
het Purépecha net twee: die asssosiasie ‘rand’ met ‘mond, lip’, en ‘wakker’ met ‘lewendig.’
Geneties is dit ver verwyderd van die ander lede van die Sprachbund, wat uit Oto-Mangue-, Mije-
Soqe-, Totonac-, Nahuatl- en Mayatale bestaan. Dit is lid van die Chibchan-Paezan-makrofamilie
wat in Nicaragua en Colombia aangetref word.
Hulle kennis van metaalwerk, pottebakkery, die ontwerp van hulle implemente en wonings en die
aard van die bouwerk by Tzintzuntzan maak dit waarskynlik dat hulle per boot uit Suid-Amerika
gekom het, tot by die mond van die Balsasrivier, en vandaar die binneland ingetrek het.
Daar is ‘n Purépecha-tydskrif, verskeie koerante het
afdelings in die taal, en kerkdienste word daarin
aangebied. Die musiek van hierdie taal is baie gewild
in die res van Meksiko.
Bronne:
Malmström, Vincent H. 1995. Geographical Origins Of The
Tarascans.
Chamoreau, C. in press. Purepecha: a non-Mesoamerican
language in Mesoamerica. Søren Wichmann (ed.) The
Languages of Middle America: A Comprehensive Guide.
Berlin: Mouton de Gruyter.
31. 30
Iréchecua Tzintzuntzáni
Die Staat van Tarasco
Die Land van Tzintzuntzan (Iréchecua Tzintzuntzáni) was die koninkryk van die Purépecha wat min
of meer die gebied van die Meksikaanse deelstaat Michoacán, en dele van Jalisco en Guanajuato
beslaan het. Dis in die vroeë 14de eeu gestig en was die tweede grootste staat ten tye van die
Spaanse verowering in 1530.
Hierdie hoogliggende vulkaniese streek behels die westerse deel van die Meksikaanse Mesa
Central tussen die Lerma- en Balsasriviere. Dit sluit matige, subtropiese en aan die kus, tropiese
klimaatsones in.
Die mense was hoofsaklik Purépecha maar het ook ander etniese groepe soos die Nahua, Otomi,
Matlazincas, Tecos, Chontales en Chichimec ingesluit. Die hoofstad Tzintzuntzan op die oewer van
Pátzcuaro-meer is deur Koning Pátzcuaro gestig, terwyl die grootste stad moontlik Angamuco was.
Die staat was ‘n vyand van die Asteke en het verskeie kere daarmee in konflik getree, sodat die
Asteke nie na die noordweste kon uitbrei nie. In die 1470s het die Asteke onder Axayacatl ‘n
poging aangewend om die staat se kerngebied binne te val, maar is verslaan.
32. 31
Van 1480 af het die Asteekse koning Ahuitzotl die konflik hernu en groepe soos die Matlatzincas,
Chontales, en Cuitlatecs aangemoedig om Iréchecua Tzintzuntzáni aan te val, maar Koning
Zuangua het al die aanvalle afgeweer. In 1530 is die staat deur die Spanjaarde oorgeneem.
In 1536 is Vasco de Quiroga as Biskop van Michoacán aangestel. Hy het die res van sy lewe in
Michoacán gewerk as beskermheer van die mense, onder wie hy as die beminde Tata Vasco
bekend staan.
Die Relación de Michoacán is rondom 1540 deur die Fransiskaanse priester Fray Jeronimo de Acalá
saamgestel; die werk bevat narratiewe van edeles van die staat, sowel as dele van die “amptelike
geskiedenis van Tarasco”. Dit fokus op geskiedenis en op die mense se religieuse tradisie.
33. 32
Náhuatl (Nawa)
Yuta-Nawan
Sentraal-Amerind
Sentraal-Amerind se drie takke is Kiowa-Tanoan,
Oto-Mangue en Yuta-Nawan (Uto-Aztecan). Die
laasgenoemde familie is een van die grootstes in
die Amerikas in terme van sprekers, tale en
geografie. Vanaf Idaho (Shoshone) tot in El
Salvador (Pipil) is daar meer as 60 tale en sowat
twee miljoen sprekers.
Die Vallei van Meksiko is ‘n hooglandplato in
sentrale Meksiko omring deur berge en vulkane.
Dis ‘n wieg van beskawing waar kulture soos
Teotihuacan en die Toltecs floreer het. Die vallei in
geheel word soms die Kom van Meksiko genoem,
terwyl die Kom van Meksiko meer spesifiek na die
streek rondom die stad Meksiko verwys.
Vanaf hulle oorspong in die noorde, het die Nahuatl-stamme die Vallei van Meksiko soos volg bewoon: Die
Xochimilca het hulle rondom 900 HE in Cuahilama gevestig. Die tweede was die Chalca wat sowat 25 km
oos van Tenochtitlán gaan woon het. Laat in die 12de of vroeg in die 13de eeu het die Tepaneca hulle by
Azcapotzalco aan die noordweskus van die Texcoco-meer gevestig.
Die vierde, Acolhua, het hulle aan die noordooskus van die meer gevestig. Die Tlahuica was die vyfde groep,
en hulle het die stede Cuauhnahuac (hedendaagse Cuernavaca), en Huaxtepec suid van die meer gestig. Die
Tlaxcalan het in die ooste van die Vallei van Meksiko gaan woon waar hulle die stad Tlaxcala gestig het.
Die naam Meksiko kom van die Mēxihco [meːˈʃiʔko], die sewende en laaste groep wat die meesters van die
Ryk van die Asteke geword het. Hulle ander name was Culhua-Mexica en Tenochca, vernoem na Tenoch
wat Tenochtitlan rondom 1325 op ‘n eiland in die Texcoco-meer gestig het.
Tydens die 15de en 16de eeue het sprekers van Nahuatl oor die hele Meso-Amerika versprei onder die
Asteekse Ryk. Na die Spaanse oorname is die taal in ‘n Latynse alfabet gedruk en geskryf. Klassieke Nahuatl
is regoor Meksiko deur die Spanjaarde as administratiewe taal ingespan.
34. 33
Vandag woon die grooste konsentrasie Nahua(tl)-
sprekers in Puebla, Veracruz, Hidalgo, San Luis
Potosí en Guerrero.
Die /t͡ɬ/-foneem van Klassieke Nahuatl het in óf ‘n
/t/ verander soos in die dialek van die Landengte óf
in /l/ in die dialek van Pómaro, Michoacán.
Sommige moderne dialekte het foneme soos /b, d,
ɡ, f/ by Spaans geleen.
Al die tale van Sentraal-Meksiko - met inbegrip van
Nahuatl - bevat leenwoorde uit Mije-Soke. Voor die
jaar 500 VHE moes daar al sprekers van Mije-Soke-
tale in die Vallei van Meksiko gewoon het.
Nahuatl, wat vanaf 800 HE uit die Vallei begin
versprei het, het toe reeds ‘n aansienlike aantal
leenwoorde uit Mije-Soke gehad.
Die werkwoordstam kry prefikse wat die persoon
van die onderwerp en die persoon en getal van die
direkte en indirekte voorwerp merk, terwyl die
suffikse aspek, tyd, modaliteit en onderwerpgetal
aandui. Twee aspekte bestaan: perfektum en imperfektum, sowel as progressief en gewoontelik in sommige
dialekte. So ook die optatiewe en prohibitiewe modaliteite.
Die Mije-Soke-tale beskik oor al die strukturele eienskappe wat deur Nahuatl aangeneem is, en Nahuatl het
beslis een grammatiese morfeem, en morfologiese en sintaktiese patrone aan Nahuatl oorgedra.
Nahuatl het ‘n vigesimal (basis-20) telwoordstelsel. Die basiswaardes is cempoalli (1 × 20), centzontli (1 ×
400), cenxiquipilli (1 × 8,000), cempoalxiquipilli (1 × 20 × 8,000 = 160,000), centzonxiquipilli (1 × 400 ×
8,000 = 3,200,000). Die ce(n/m) prefiks staan vir "een" (soos in "een honderd" en "een duisend").
Meksikaanse Spaans gebruik talle Nahua-leenwoorde, veral op die terrein van diername, plante, groente,
vrugte, kos en drankies. Die stel affrikate sluit in [t͡s] en [t͡ɬ] wat as ⟨tz⟩ en ⟨tl⟩ geskryf word, soos
/coatzacoalquense/ [koat͡sakoalˈkense] (‘van Coatzacoalcos af’), tlapalería [t͡ɬapaleˈɾia] ('hardeware winkel’).
Selfs woorde van Latynse of Griekse oorsprong met ⟨tl⟩, soos /Atlántico/ en /atleta/, word
uitgespreek:[aˈt͡ɬãn̪t̪iko̞], [aˈt͡ɬe̞t̪a].
Bron:
Van der Hulst, Harry, Keren Rice en Leo Wetzels. The Languages of Middle America.
35. 34
Cherokee
Keresiouan
Almosan-Keresiouan
Cherokee (ᏣᎳᎩ) word in Noord-Carolina, Arkansas en Oklahoma gepraat, deur net ongeveer 1,500 mense
uit ‘n groep van 378, 000. Cherokee (ᏣᎳᎩ ᎦᏬᏂᎯᏍᏗ, Tsalagi Gawonihisdi [dʒalaˈɡî ɡawónihisˈdî]) is ‘n taal
wat naby aan sy einde is, in weerwil van pogings om dit te red. In 2019 het die Driekamerraad van
Cherokeestamme ‘n noodtoestand oor die stand van die taal afgekondig.
Cherokee is die inheemse taal van die VSA met die grootste korpus gepubliseerde werke.
Daaronder is ‘n grammatika, woordeboeke, Nuwe Testament en Psalms. Die taal het ook sy eie
koerant, Cherokee Phoenix, gehad. Twee hoofdialekte bestaan: Oostelik (Kituwa) in The Qualla, ‘n
deel van Noord-Carolina, en Westelik (Otali) in Oklahoma en Noord-Carolina.
Cherokee behoort tot die Iroquois-taalfamilie, wat Mohawk, Oneida, Onondaga, Cayuga, Seneca
en Tuskarora insluit. (Hiawatha was ‘n Mohawkleier, en die sanger-liedjieskrywer Robbie Robertson
van The Band is Mohawk).
36. 35
Die Iroquois-tale is op hulle beurt weer deel van Keresiouan, wat eindelik deel uitmaak van
Almosan-Keresiouan. Soos ander Iroquoistale, het Cherokee nie die labiale foneme /p, b, f, v/ nie;
/m/ bestaan wel maar is raar. Die taal se konsonant-inventaris is minimalisties.
Cherokee het sy eie alfabet wat deur
Sequoyah (1776–1843) ontwikkel is. Dié
skryfwyse wat uit simbole vir 85 lettergrepe
bestaan, is in 1825 deur die nasie aanvaar en
het gehelp om die Cherokee in ‘n kort tydjie
geletterd te maak. Dis ook in die tweetalige
koerant, The Cherokee Phoenix gebruik.
Sequoyah se alfabet word steeds gebruik en is
te siene op geboue en padtekens in die
Cherokee Nation in noordoos-Oklahoma.
37. 36
Lakota
Keresiouan
Almosan-Keresiouan
Die Lakota, wat ook as Teton Sioux bekend staan, is een van drie hoofgroepe van die Sioux. Hulle praat
Lakȟótiyapi – die Lakotataal, die mees westelike van die drie nouverwante tale wat die Siouan taalfamilie
uitmaak. Die name Teton of Tetuwan is afgelei van die Lakota-woord thítȟuŋwaŋ, waarvan die betekenis nie
duidelik is nie. Ander benaminge sluit in: Tinton, Tindaw, Atintans, en Teetonwan, terwyl vroeë Franse
rekords na hulle verwys as Sioux des prairies, Sioux occidentaux en Sioux nomades.
By die 2010-sensus was daar meer as 170,000 Lakota waarvan net 2,000 nog die taal praat. Vandag woon
die Lakota verspreid oor reservate in Noord- en Suid-Dakota, Montana en in Saskatchewan en Manitoba in
Kanada. Hulle woon ook in Rapid City en in dorpe in die Black Hills-gebied. Die westelike dialek van Dakota
(Dakȟótiyapi) is wedersyds verstaanbaar met Lakota, maar het net sowat 200 sprekers oor.
38. 37
The Black Hills, ‘n afgesonderde bergreeks wat bo die Groot Vlaktes van Noord-Amerika uittroon in
Wyoming en South Dakota, is ‘n heilige plek vir die Lakota. Die hoogste berg is Black Elk Peak van 7,244
voet (2,208 m) en die area sluit Black Hills Nasionale Woud in. Die naam "Black Hills" is ‘n vertaling van
Lakota Pahá Sápa, omdat die berge donker lyk van ‘n afstand af, oënskynlik omdat hulle hange vol
immergroen bome is.
Lakotaleiers van formaat sluit in Tȟatȟáŋka Íyotake (Sitting Bull) wat as die grootste Sioux-leier van almal
beskou word. Dit was hy wat Genl Custer by Little Big Horn verslaan het.
39. 38
Heȟáka Sápa (Black Elk ) is beroemd vir die boeke wat hy aan Amerikaanse etnograwe dikteer het. Hy het
die sewe heilige rites van die Sioux aan Joseph Epes Brown meegedeel wat dit in die boek The Sacred Pipe
gepubliseer het. Die etnoloog John Neihardt het sy visioene, religieuse oortuigings en ervarings, in die 1932
boek Black Elk Speaks uiteengesit.
Tȟašúŋke Witkó (Crazy Horse) was ‘n kryger van die Oglala Lakota wat in baie gevegte teen die Verenigde
State betrokke was: Die Slag van Platte Bridge, die Slag van die Honderd in die Hand, die Wakis Slag en die
Groot Sioux Oorlog. In 1982 het die Verenigde State se posdiens ‘n seël ter ere van Crazy Horse uitgegee.
40. 39
Daar word vermoed dat die voorouers van die Sioux die “mount builders” was.
Lakota beskik oor sowat dertig fonemiese konsonante en die klinkers /i e a o u/ plus drie nasale klinkers, /ĩ
ã ũ/ (foneties [ɪ ̃ ə̃ ʊ̃]). Die nasale klinkers is eers as /į ą ų/ geskryf, en word deesdae met ‘n volgende /ƞ, ŋ of
n/ aangedui.
Werkwoorde kan elemente soos bywoorde en byvoeglike naamwoorde inkorporeer. Die woordorde is SOV
maar nie rigied nie. Lakota gebruik agtersetsels, soos byvoorbeeld /mas'óphiye él/ wat letterlik as “winkel
by” beskou kan word, en /thípi=kiŋ ókšaŋ/ "rondom die huis" (letterlik ‘huis rondom’. Bywoorde of
agtersetselfrases kan wyse, plek en rede beskryf.
Lakota is ‘n lid van Siouan, en hoër op, van Siouan-Yuchi, wat deel van die breër Keresiouan-groep is. Die
groter familie word Almosan-Keresiouan genoem.
Bronne:
https://www.crystalinks.com/sioux.html
https://omniglot.com/language/phrases/lakota.php
41. 40
Die Amerindiese Tale
Proto-Amerind, haar dogters en kleindogters
Die kern van hierdie bespreking is ‘n 2008-essay deur Larry Lepionka, “Historical interpretations of
geographical distributions of Amerind subfamilies”, uit In Hot Pursuit of Language in Prehistory: Essays
in the four fields of anthropology,*1 aangevul met addisionele data wat sedertdien beskikbaar geword
het.
Lepionka se analise is gebaseer op Joseph Greenberg en Merritt Ruhlen se baanbrekerswerke van
1987 en 2007, met verwysing na Greenberg se elf taalfamilies van Amerind (wat Eskimo-Aleut en die
Na-Dene tale uitsluit). Die toepaslike doelwit van so ‘n analise is om hipotese voor te stel wat direk
aan die linguïstiese bewyse getoets kan word, of indirek aan argeologiese bewyse.
Lepionka neem die elf families in oënskou en stel dieper verwantskappe voor om die vroegste vier
phylums te identifiseer. Die onderliggende konsep van die analise berus op die feit dat ruimtelike
verspreiding op sigself artefakte van die geskiedenis is, en daarom aspekte van die geskiedenis kan
onthul.
Die kontras tussen ‘n gekonsentreerde en verstrooide verspreiding van taalfamilies dra betekenis.
Binne ‘n gegewe geografiese ruimte wat deur twee of meer taalfamilies bewoon word, word die
groep met die aaneenlopende verspreiding as ‘n latere aankoms beskou, terwyl die groep wat uit
geïsoleerde eilande bestaan, ouer is. Die fragmentering van die ouer familie is ‘n resultaat van die
inkoms van die latere. En diversiteit is groter in die streek wat die langste bewoon word.
Genetiese studies het bevind dat die pre-koloniale bevolkings van die Amerikas – van Kanada tot by
die suidelike punt van Chile – deur drie migrasies geplant is. Die meerderheid stam af van ‘n enkele
groep Eerste Amerikaanse Migrante wat vanaf Beringia gekom het, toe dit nog ‘n landbrug tussen
Asië en Alaska gevorm het.
Deur na variasies in DNA te kyk, is daar bevind dat hoewel die grootste deel van die bevolking van
die Amerikas uit die eerste migrasie ontstaan het, twee latere migrasies ook belangrike genetiese
bydraes gelewer het.*2 (Nature).
Die tweede en derde migrasies se impak is beperk tot Noord-Amerika, maar selfs die noordelike
bevolkings het die grootste deel van hulle genoom van die Eerste Amerikaanse Migrasie geërf. Dit
bevestig die feit dat die mense van die twee latere migrasies uit Asië met die Eerste Amerikaners
vermeng het.
42. 41
Die ysvrye poort deur die koue
Veertienduisend jaar gelede het daar ‘n poort tussen die Kontinentale (Laurentiese) en die Cordillera-
ysplate van Noord-Amerika oopgegaan weens verwarming. Mense het dié poort betree en na die
suide gevolg, totdat hulle die suidelike rand van die ysplaat bereik het.
Aan die linkerkant was die wuiwende grasvelde van die ooste en aan die regterkant was die
Rotsgebergte (Rocky Mountains) wat steeds met ys bedek was. Na die ooste was daar een rivier na
die ander en volop wild. Dis nie moeilik om te raai watter rigting die eerste migrante sou kies nie.
Soos die migrante se getalle toeneem, sou hulle al hoe verder oos en suid beweeg, en in die
Amerikaanse suidweste ‘n woudland-paradys aantref, vol eetbare plante en troppe wild.
Dit sluit nie die moontlikheid uit dat sommige van die vroegste migrante die reis na die suide
voortgesit het nie, of dat ander, toe hulle ver genoeg suid beweeg het, die berge na Kalifornië
oorgesteek het nie. Die datums uit Suid-Amerika suggereer dat die vroegste mense daar nie lank in
die noorde getalm het nie. Dié groepie – of twee groepies - jagter-versamelaars aan die voorpunt
moes hulle verkyk het aan die landskap soos dit warmer en groener en wildryker word.
Die Pioniers
Die een groepie was fisies toegerus vir ‘n koue klimaat, en om hoog bo seespieël te floreer. Die
ander was met eienskappe toegerus wat ideaal is vir ‘n warm klimaat in tropiese reënwoude en
savanna.
Albei het deur Panama die suidelike kontinent in beweeg. Een van hulle het die kus na die suide
gevolg, deur die teenswoordige Colombië, Ecuador, Peru en Chile. Ver in die suide – Patagonië of
die Chileense kus, kom hulle tot ruste, plant voort en vermeerder.
Andies as die eerste phylum wat Suid-Amerika betree het, kan nie betwyfel word nie. Van die
suidelikste punt van die kontinent, Tierra del Fuego, deur Patagonië en die weskus van Chile tot in
Peru het dié groepering aanvanklik ‘n ononderbroke strook gevorm.
Equatorial-Tucano
Die ander groep versprei al langs die kus van die Karibbiese See, van die teenswoordige Colombia
na die strandmeer van Maracaibo, deur die kusstrook van Venezuela tot by die mond van die
Orinocorivier. ‘n Groepie Dwarstrekkers beweeg in die riviervallei op terwyl die ander verby die
Guyanas gaan op pad na die Atlantiese kus van Brasilië. Eindelik gaan die Dwarstrekkers op na die
berge, en skop nes aan die oostelike hange van die Andes.
43. 42
Greenberg se Equatorial-Tucanoan-phylum, as die eerste in die tropiese streek, word vandag wyd
verspreid oos van die Andesgebergte aangetref. Sy verspreidingspatroon bestaan uit geïsoleerde
lappies en periferale streke op die Atlantiese kus en die Karibbiese See.
Dis duidelik onderbreek deur Macro-Carib in die noorde, deur Macro-Jê in die middel en deur
Macro-Pano in die suide. Aan die oostelike hange van die berge het Chibchan-Paezan en Andies dit
vanaf Equador tot Bolivia onderbreek.
Ekologiese aanpassing speel ‘n belangrike rol in voorhistoriese vestiging, en Equatorial-Tucanoan
wys ‘n voorliefde vir kusgebiede en riviervalleie met reënwoud soos die Orinoco- en Amasonerivier
en hulle sytakke. Geen ekspansie na die weste van die Andes of na die Pampas en Patagonië het
plaasgevind nie. Macro-Arawak is die groep wat die verste versprei het, lank voor Macro-Carib.
Jê-Pano-Carib
Die verspreiding van Jê-Pano-Carib is meer kompak as dié van Equatorial-Tucano. Hierdie groep is
waarskynlik aangepas vir tropiese grasvelde. Macro-Jê in die ooste en sentrale dele van die kontinent
omring verskeie lappies Equatorial.
Macro-Pano verskyn vanaf suidoos Brasilië tot by Paraguay en Bolivië, en vanaf die ooste van Peru
in Brasilië in. Macro-Carib is versprei oor Venezuela, Guyana, Suriname en die nabygeleë dele van
Brasilië, met uitlopers op die oostelinge hang van die Andes in Colombia, op die Equador-Peru-
grens en in die middel van Brasilië. Dit omring ook verskeie lappies Equatorial in sy
verspreidingsareas.
Jê-Pano-Carib het ten koste van Equatorial-Tucanoan versprei, soos blyk uit die oorblyfsels en
periferale sones van laasgenoemde. Macro-Carib moet die vroegste van die drie subgroepe wees;
Jê-Pano moes daaruit voortgespruit het.
Die oorspronklike tuiste van Jê-Pano-Carib is dus waarskynlik Venezuela, Guyana of Suriname.
Uitbreiding het begin met Jê se ekspansie na die suide, waar Jê-Pano van Carib begin verskil het,
sodat Macro-Jê na die ooste, en Macro-Pano na die suide en weste beweeg het.
Die oorsprong van Macro-Carib kan dus in ‘n Equatorial-taal lê.
45. 44
Andies
Proto-Andies het twee moontlike tuislande, Peru of suidelike Chile en Patagonië.
‘n Waarskynlike scenario vir die verspreiding van taalfamilies in Peru is die volgende: (1) Die
voorouers van Andies het daardeur beweeg op pad na die suide (2) Equatorial-sprekers het van die
ooste af ingekom (3) sprekers van Paezan het na Bolivië en na die noorde van Argentinië en Chile
uitgebrei, en in die proses die reste van (1) en (2) geabsorbeer (4) Andiese groepe uit die suide het
die Altiplano en westelike hange van die Andes betree terwyl Macro-Pano-groepe uit die
Amasonevallei hulle op die oostelike hange van die Andes gevestig het.
Volgens Ruhlen mag Chibchan-Paezan ‘n hegter verbintenis met Andies as enige ander groep hê,
terwyl Lepionka die moontlikheid opper dat dit uit Hokan ontstaan het, en later Hokan verplaas het.
Drie Andiese tale is steeds groot en lewenskragtig, te wete die Quechua-tale, Aymara en
Mapudungun.
Die slotsom is dat Andies en Equatorial sustergroepe is wat direk van Proto-Amerindies afstam.
Chibchan-Paezan
Dié familie het waarskynlik in Meso-Amerika ontstaan, en ‘n vroeë verdeling het Proto-Paezan in
Suid-Amerika afgegee.
Chibchan het drie verspreidingstreke: die suidweskus van Meksiko (Jalisco tot Michoacan), Sentraal-
Amerika (van Honduras en El Salvador deur Panama, met ‘n deel van die Karibbiese kus en die
binneland van Colombië). Dit moes aanvanklik ‘n soliede strook gewees het, wat deur die latere
verspreiding van Sentraal-Amerindies en Penuties opgebreek is.
Chibchan se tuisland was waarskynlik Meksiko, en Chibchan stam volgens Lepionka uit Hokan, wat
steeds ‘n teenwoordigheid op die noordelike Golfkus en Baja California handhaaf, met oorblyfsel-
eilandjies naby die grens van Guerrero en Oaxaca, noordelike Honduras, en die Stille Oseaankus van
Colombia.
Hokan is soos Chibchan deur Sentraal-Amerindies en Penuties gefragmenteer, asook deur die vroeër
ekspansie van Chibchan.
Paezan se wye verspreiding, vanaf Chile en Argentinië in die suide tot by Florida in die noorde, met
lappies langs die Karibbiese kus, veronderstel die kusstrook van Colombië as tuisland. Paezan se
ekspansie het Equatorial opgebreek, en Paezan self is later deur die verspreiding van Macro-Carib
opgebreek.
46. 45
Sentraal-Amerind
Proto-Sentraal-Amerind het vermoedelik in die suidweste van die VSA of die noorde van Meksiko
ontwikkel, en Sentraal-Amerind het deur Meksiko tot by die Landengte van Tehuantepec versprei,
slegs onderbreek deur buiteposte van die Na-Dene-tale in die suidweste van die VSA.
Dit het Chibchan verplaas maar kon nie deur die Penutiese streke in Yucatan en Guatamala breek
nie. Oorblyfsels van Hokan word rondom Sentraal-Amerindies gevind in Kalifornië, die kus van
Meksiko en Texas en langs die Rio Grande, sowel as Honduras en Colombië. Dit suggereer dat Hokan
ook verplaas is, en verder dat Sentraal-Amerindies uit ‘n Hokan-taal ontstaan het.
Ruhlen (2007) is van mening dat Yuto-Nawa (Uto-Asteeks) van suidelike Meksiko na die noorde
versprei het. Sentraal-Amerindies se drie onderafdelings is Tano in die noorde, Yuto-Nawa) ook daar
en in Meksiko, en Oto-Mangue in Meksiko. Die Yuto-Nawa-taal Nahua(tl) is Meksiko se grootste,
met nagenoeg twee miljoen sprekers.
Oaxaca is die Meksikaanse provinsie met die meeste sprekers van Oto-Mangue-tale, waar die
Zapotec en Mixtec-tale deur altesaam 1.5 miljoen mense gepraat word. In die sentrale state Mexico,
Hidalgo en Querétaro, het Otomi en Mazahua, twee tale van die Oto-Pame-tak, saam meer as
500,000 sprekers.
48. 47
Hokan
Hokan het in Noord-Amerika wes van die Rotsberge ontstaan, en is aanvanklik versprei vanaf
Kalifornië tot in die suide en regdeur Meso-Amerika.
Proto-Hokan wat uit Penuties ontstaan het, is die oorspronlike Wes-Amerindies. Vandag word dit
gevind vanaf die noordelike, deur die sentrale tot in die suidelike dele van Kalifornië, in Baja
California, Arizona, die kus van Texas en Meksiko, langs die Rio Grande, in Guerrero, Oaxaca en
Chiapas, El Salvador, die noordkus van Honduras en ‘n klein enklave op die Stille Oseaankus van
Colombië.
Hokan en Penuties is dus susterfamilies op dieselfde vlak.
Penuties
Penuties is die heel eerste taal van Noord-Amerika, en was in die ooste gekonsentreer. Proto-
Amerind is die taal wat uit Beringia gekom het, en moet dus baie naby aan Proto-Penuties wees.
Die verspreiding van Penuties sluit in die suidoostelike VSA, vanaf die ooste van Texas tot by South
Carolina, en met die Mississippivallei op tot in Missouri. Aan die weskus strek Penuties vanaf die
suide van Alaska deur Kanada, Washington en Oregon tot in suidelike Kalifornië, die suidweste, klein
lappies aan die ooskus van Meksiko, en ‘n strook van Tehuantepec tot in Guatemala wat die hele
Yucatan-skiereiland insluit.
Sommige van die Penutiese tale in Kalifornië is meer spesifiek Golftale van die suidooste, wat selfs
met die New Orleans-area verbind kan word. Die meer veraf-verwante Penutiese tale van die weskus
is elk ‘n afsonderlike groep op dieselfde taksonomiese vlak as Golf- of Meksikaanse Penuties.
Almosan-Keresiouan
Almosan-Keresiouan dek die hele breedte van Noord-Amerika. Sy uitbreiding het plaasgevind in die
spore van die yslaag soos dit na die noorde van Kanada teruggetrek het. Almosan-Keresiouan het
vanuit die oostelike hartland van Penuties die gebiede betrek wat voorheen onder ys bedek was,.
Proto-Almosan-Keresiouan stam uit ‘n Penutiese groep wat aan die voorpunt van die noordelike
migrasie gestaan het, en Proto-Almosan het geboorte geskenk aan die Mosan- en Keresiouantale.
Dié migrasie het aanvanklik na die noordooste beweeg en tot by die boomlyn gevorder, die
Atlantiese kusgebied gevul, en toe weswaarts deur Kanada begin beweeg. Die eerste hindernis
onderweg was weer die Rotsberge, waaragter die riviere vol salm op die westelike hange gewag het.
Die vallei van die Fraserrivier word tot vandag nog deur sprekers van Mosan bewoon.
49. 48
By die kus het hulle die Penutiese gebied verdeel sodat Tsimshian in die noorde geïsoleer is. Die
oorsteek van die berge en die verlies aan kontak met die oostelike tale was die begin van die
verdeling tussen Almosan (ooste) en Mosan (weste).
Mosan-sprekers het waarskynlik die kus bereik voordat die sprekers van Na-Dene daar opgedaag
het. Keresiouan het in westelike en oostelike tale verdeel, met ‘n buitepos Almosanstreek wes van
die hoof- Keresiouangebied. Proto-Keresiouan het uit ‘n Almosantaal ontwikkel, heel moontlik in die
omgewing van die oorsprong van die Mississippirivier. Die oostelike groep van Keresiouantale is die
Iroquoistale wat van die St Lawrencevallei in die noorde deur New York tot by Virginia en Suid-
Carolina strek.
Lepionka bevind dus dat al elf Amerindiese taalfamilies nie onafhanklike dogtertale van Proto-
Amerind is nie. Die Andiese en Equatorial-families stam direk uit Proto-Amerindies, terwyl Tucano
en Macro-Carib van Equatorial af kom. Op sy beurt het Macro-Carib die Jê-Pano-groep verwek.
Sentraal-Amerindies en Chibchan stam af van Hokan, en Paezan van Chibchan. Hokan is ‘n ouer kind
van Penuties, en Almosan ‘n jonger een. Die Mosan- en Keresiouantale het uit Almosan ontwikkel.
Dit laat mens met vier dogtertaalfamilies wat direk uit Proto-Amerindies stam: Penuties, Hokan,
Andies en Equatorial.
Die stam T’AʔNA ~ kind / sib
Een van die bewyse in Greenberg se identifisering van die Amerindiese familie, is die woord /tana/
waarvan die algemene betekenis “kind” of “sib” is. Die stam word in al elf van Greenberg se
Amerindiese familie gevind. Die rekonstruksie vir Proto-Amerind sou *t’ana wees. In Noord- en
Sentraal-Amerika verskyn vorms soos tuwaana (seun), sinsin (neef), i-tsaŋa (jonk), t’ánat (kleinkind),
-tsan (verkleinsuffiks), *taʔn (sib), sitona (vrou), out (dogter), tatan (ouer broer), en in Suid-Amerika,
vorms soos toto (ouer broer), tini-usa (dogter), tino (kleintjie), ketun (suster), doana (skoonseun),
tute (kind), dēnu (seunskind).
Dis nie net die stam wat die verbintenis tussen voorvermelde vorme aandui nie, maar ook affikse
wat in spesifieke kombinasies aan die stam geheg word. Die eerste persoon *na soos in *netankwa
(skoonsuster in Proto-Algonquian), en nitari (my broer in Ipurina). Die verkleinsuffiks *sa se vorme
sluit in /taŋsa/ (meisie in Macusi), /kwunasa/ (meisie in Cayuse); die ander verkleinsuffiks *-mai lewer
onder meer /tani-mai/ (jonger suster in Masaca), en /nutanimi/ (my dogter, in Yavitero).
Die suffiks *-kwa vir skoonfamilie bied /ategwa/ (neef in Motilon), /utsekwa/ (kleinkind in Tacana),
/nekwa/ (skoonouer in Yurok), die suffiks *-ko vir ‘n ouer persoon bied /tonko/ (ouer broer in
Caraho), /tūkã/ (oom aan moederskant in Biloxi), *-tuk wat ook na “kind” verwys, soos /tuktan/
50. 49
(seuntjie in Miskito), /togtan/ (meisie in Tibagi), plus talle kombinasies met ‘n hele rits ander affikse
soos *-win (vroulik), *-wis (ouer vroulik), en die prefiks *ʔa- (ouer).
Familie Taal Vorm Betekenis
Almosan Nootka t’an’a kind
Keresiouan Yuchi tane broerskind
Penutian Totonac t’anat kleinkind
Hokan Coahuiltec t’an kind
Central Amerind P-Uto-Azt *tana kind
Chibchan Miskito tuk-tan kind
Paezan Warrau dani- ma se suster
Andies Aymara tayna eersgeborene
Macro-Tucanoan Masaca tani-mal jonger suster
Equatorial Uruba-Klaapor ta’in kind
Macro-Carib Pavishana tane my seun
Macro-Pano Lengua tawin kleinkind
Macro-Je Tibagi togtan meisie
-------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verwysings
*1 Lepionka, Larry. Historical interpretations of geographical distributions of Amerind subfamilies.
Article published in: In Hot Pursuit of Language in Prehistory: Essays in the four fields of anthropology. In
honor of Harold Crane Fleming. Edited by John D. Bengtson.
*2 David Reich, Nick Patterson, Desmond Campbell, Arti Tandon, Stéphane Mazières, et al.
Reconstructing Native American population history. Nature, Nature Publishing Group, 2012, 488
(7411),pp.370-4. 10.1038/nature11258. hal-0072
51. 50
Top Tien inheemse tale van die Amerikas en van die VSA
Die Babbel-webwerf en -tydskrif bied ‘n Top 10 Inheemse Tale van die Amerikas op 27 Maart 2020
aan. Die problematiese aspek daaraan is dat Quechua, Maya, Mixtec, Zapotec en Totonac eerder
taalfamilies as enkeltale is.
1. Quechua 7.7 miljoen
2. Maya 6.4 miljoen
3. Guaraní 6.2 miljoen
4. Nahuatl 1.7 miljoen
5. Aymara 1.6 miljoen
6. Mixtec 518,000
7. Zapotec 441,000
8. Otomi 285,000
9. Totonac 268,000
10. Mapudungun 250,000
Devlin, Thomas Moore. All In The Language Family: The Amerindian Languages. March 27, 2020.
https://www.babbel.com/en/magazine/amerindian-languages
Sarah-Claire Jordan van Alphaomegatranslations bied op 10 Augustus 2015 die volgende lys van
die Top 10 Inheemse Tale in die VSA aan. Let wel dat Navajo en Yupik nie Amerindiese tale is nie,
maar onderskeidelik aan die N-Dene- en Eskimo-Aleut-families behoort.
1. Navajo
2. Sioux
3. Yupik
4. Keresan
5. Cherokee
6. Choctaw
7. Zuni
8. O’odham
9. Ojibwe (Chippewa)
10. Hopi
Jordan, Sarah-Claire. Top 10 Indigenous Languages of the US. Aug 10, 2015.
https://alphaomegatranslations.com/foreign-language/top-10-indigenous-languages-of-the-u-s/
52. 51
Bibliografie
Campbell, Lyle and Terrence Kaufman. 1976. A Linguistic Look at the Olmecs. American
Antiquity, Vol. 41, No. 1 (Jan., 1976), pp. 80-89 Published by: Society for American Archaeology
Stable URL: http://www.jstor.org/stable/279044
Campbell, Lyle, Terrence Kaufman and Thomas C Smith-Stark. 1986. Meso-America as a
linguistic area, in; Language vol 62, number 3 (1986).
Cavalli-Sforza, L. L., Menozzi, P. & Piazza, A. 1994. The History and Geography of Human
Genes (Princeton Univ. Press, 1994)
Emekur: Sprachen, Karten und Sprachkarten. 2021. https://emekurnet.wordpress.com/
Gómez-Carballa A, Pardo-Seco J, Brandini S, et al. The peopling of South America and the trans-
Andean gene flow of the first settlers. Genome Research. 2018 Jun;28(6):767-779. DOI:
10.1101/gr.234674.118.
Greenberg, Joseph H. and Merritt Ruhlen. 2007. An Amerind Etymological Dictionary. Dept of
Anthropological Sciences, Stanford University, 2007.
Greenberg, Joseph H. 1987. Language in the Americas. Stanford, Stanford University Press.
Greenberg, Joseph H. 1966. The Languages of Africa. 2nd ed. Mouton & Co, The Hague.
Greenberg, Joseph H. (editor). 1980. Language Universals. Mouton de Gruyter.
Matteson, Esther, Alva Wheeler, Frances L. Jackson, Nathan E. Waltz, and Diana R. Christian.
1972. Comparative Studies in Amerindian Languages. Janua Linguarum, Series Practica, 127.
The Hague: Mouton, 1972.
Meltzer, D. J. 2009. First Peoples in a New World: Colonizing Ice Age America (Univ. of California
Press, 2009)
Minster, Christopher. 2019. The Olmec
https://www.thoughtco.com/the-olmec-overview-2136304
Thomaz Pinotti, Anders Bergström, Maria Geppert, et al. Y Chromosome Sequences Reveal a
Short Beringian Standstill, Rapid Expansion, and early Population structure of Native American
Founders.Current Biology, Volume 29, Issue 1, 2019. Pages 149-157.e3, ISSN 0960-9822
https://doi.org/10.1016/j.cub.2018.11.029.
www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0960982218314957
Reich, D., Patterson, N., Campbell, D. et al. Reconstructing Native American population
history. Nature 488, 370–374 (2012). https://doi.org/10.1038/nature11258
53. 52
Ruhlen, Merritt. 1987. A Guide to the world's languages, Vol. I: Classification. London: Edward
Arnold, 1987
Ruhlen, Merritt. 1994. On the Origin of Languages: Studies in Linguistic Taxonomy. Stanford
University Press, 1994
Turner C.G., Scott G.R. 2015. The Dentition of American Indians: Evolutionary Results and
Demographic Implications Following Colonization from Siberia. In: Henke W., Tattersall I. (eds)
Handbook of Paleoanthropology. Springer, Berlin, Heidelberg. https://doi.org/10.1007/978-3-642-
39979-4_63
Sequoyah and the Creation of the Cherokee Syllabary. 2019. National Geographic.
https://www.nationalgeographic.org/article/sequoyah-and-creation-cherokee-syllabary/
Schmal, John P. 2018. The Náhuatl Language of Mexico: From Aztlán to the Present Day.
https://indigenousmexico.org/state-of-mexico/the-nahuatl-language-of-mexico-from-aztlan-to-the-
present-day/
Sutter, Richard C. 2005. The Prehistoric Peopling of South America as Inferred from Epigenetic
Dental Traits. Indiana University - Purdue University, Fort Way.
Wood, Sam. 2020. All In The Language Family: The Mayan Languages.
https://www.babbel.com/en/magazine/mayan-languages
Zamponi, Raoul. First-person n and second-person m in Native America: a fresh look. Italian
Journal of Linguistics, vol 29, Issue 2, 2017.
54. 53
Indeks
Affiks 8
Ahuitzotl 31
Almosan 47
Altiplano 8
Amasonies 4, 44
Andes 4
Andies 4, 44
Angamuco 30
Araukaans 4
Arawak 4
Argentinië 4
Asteke 30
Aullaga 9
Axayacatl 30
Ayacucho 11
Aymara 8
Belize 18
Beringia 40
Bertonio, Ludovico 10
Black Hills 36
Black Elk 38
Bolivië 11
Brasilië 4
Cerro de las Mesas 25