SlideShare a Scribd company logo
1 of 17
Download to read offline
1
2
Kaskenades
van die
Agtermekaarkêrels
Pieter Uys, Sheree Rayfield, Pierre Knobel, Koos Heymans
3
Drie grepe uit Johannesburg en Pretoria se ondergrondse naglewe in die
Sewentigerjare, op 'n Disco-klankbaan. Drie boeiende narratiewe uit die
destydse klubkultuur. Drie staaltjies wat jou na jou asem sal laat snak oor wat
kleurvolle karakters soos Ailsa, Broer, Elvis, Dik Lynn en Lynn Blouwildebees,
Jakes, Jungle en Prowler alles aangevang het. Karakters wie se blote bestaan
oorle Oom Paul Kruger in sy graf sou laat rondtol. Ja, benewens die Koeksisters
was daar ook die Kieriejollers! Verslawende verhale van pret, passie, perversie,
prostitusie, drank, dwelms, geweld en gemeenskap in die bisarre dog glansryke
milieu van Club Athos in Schoemanstraat, Pretoria rondom 1978/79.
4
I Dik Lynn en Lynn Blouwildebees
In elke tydvak beloon Johannesburg, en soms ook Pretoria, dié wat hardnekkig daarna soek, met
verrassende sierade van plek of milieu. Die oorgrote meerderheid jongelinge wat in die jare sewentig aan
RAU (Universiteit Johannesburg) gestudeer het, het geen behoefte aan of selfs kennis van subkulture gedra
nie. Selfs die suiwerste utopie bevat egter deviante, bohemers en andersdenkendes met hul eie, sonderlinge
behoeftes. ʼn ʼn Christelik-Nasionale uiterlike – by RAU moes ʼn mens nog daardie tyd baadjie en das dra
lesings toe – het sulke neigings doeltreffend verbloem. Die openlike rebelle wat deur houding en kleredrag
die gesag uitgedaag het, is met deernis en belangstelling bejeën want hulle het nooit langer as die eerste
semester gehou nie.
Vir die alternatiewe jongeling was daar in die middel sewentigs twee aangrypende musiekstrominge
waarvan die meeste mense net een gekies het: punk en disco. Ek het beide met gretige arms aangegryp
omdat hulle albei op sy eie manier subversief was. Disco was net heelwat meer subtiel daaroor. Net ʼn paar
maande na Donna Summer se Once Upon a Time het The Scream van Siouxsie and The Banshees en Germ
Free Adolescents van X Ray Spex my vinielversameling verryk.
Disco het die hele wêreld laat dans, van New York tot LA, München tot Montevideo en Yokohama tot
Johannesburg. Rondom 1977/78 was Mandy’s en die ou staatmaker, Dungeon, die gewildste alternatiewe
disco’s in die goudstad. Tog het Klub Athos in Pretoria ʼn onweerstaanbare attraksie uitgeoefen. Daar in
Schoemanstraat was die polsende klanke van disco die heuglike bewys daarvan dat die hoofstad steeds in
sinergie met al die belangrikste wêreldstede resoneer, ten spyte van die land se toenemende politieke
isolasie. Die heerlikste van die disco-fenomeen was dat al die plate wat “verban” was en dus nie op die radio
gehoor is nie, in die klubs die lywe laat wikkel het.
Snitte soos die gewaagde I Need A Man van Grace Jones, Miss You van die Stones, Brown Girl in the Ring
van Boney M, Donna Summer se hygende weergawe van Je T'aime (Moi Non Plus), Supernature deur
Cerrone, I Wanna Funk With You Tonight van Giorgio Moroder, porno-ster Andrea True se What’s Your
Name, What’s Your Number en Celi Bee and the Buzzy Bunch se Macho (A Real, Real, One). Meer plaaslik van
aard was daar ook Oom Jan by die Disco deur Salami wat met sy sakkie-sakkie ritme en Jan Spies-stem groot
aftrek geniet het, veral onder die macho mense.
Wat ons by die klubgangers bring. Inderdaad het daar macho mense, werklike macho mense soos Elvis,
Jakes, Prowler, Jungle en Broer by Klub Athos uitgehang. Nêrens sou jy meer macho kry as juis daar nie.
Broer was byvoorbeeld beroemd vir padwoede lank voordat die fenomeen berug geword het. ʼn Rit saam
met broer deur Pretoria was senutergend, gevul met fokjou-gebare en swetse soos “poes!” Almal het ruim
van Brylcream gebruik gemaak en Lexington of Camel gerook en dikwels dagga ook. Die meeste van hulle
5
het bikes gehad, sommige het safaripakke gedra en ander die uniform van blou denim met wit T-hemde.
Hulle het groot ontsag afgedwing by die ander klubgangers.
Benewens dié macho-mense het drag queens, gewone queens, lieflike lipstif lesbiërs en ʼn rykdom van
ander mooi mense die plek op ʼn Vrydag- en Saterdagaand in ʼn magiese wonderwêreld omtower. Onder
die boerseuns – hoofsaaklik studente en dienspligtiges – was daar sommer baie talent en selfs ook ʼn
minderheid macho’s. Karakters wat na al die jare nog uitstaan was mense soos Johanna Butch-Fem,
Dennis, Stephen die verpleër, Klein Johan en Okkie wat later San Francisco toe is. Die term
“Reënboognasie” het later ʼn ironiese glimlag by my ontlok wanneer ek die Athos-gangers onthou.
Die meeste individue het tot uiteenlopende klieks behoort en uit drasties verskillende sosiale agtergronde
gespruit. Sommige klieks was streng eenslagtig, waar alle individue van die teenoorgestelde geslag bloot
verdra is. Ander weer, was oop en vloeibaar en heelwat het selfs heteroseksuele ingesluit. Veral gewild
was heteroseksuele kuns- en dramastudente van Tukkies. Die mees imposante drag queen was die lang,
blonde Penny terwyl die grasieuse Mary, Mejuffrou Athos 1978, nooit ʼn aand misgeloop het nie.
Mary het ʼn woonstel met Poppie gedeel, ʼn letta wat by die HNP werksaam was. Dit was oorkant Haaspark
in Pretoria waar my Tuks-studentevriende ook gewoon het. Mary en Poppie se teenwoordigheid het
buitengewone prestige aan die gebou verleen in die kringe waarin ons beweeg het. Groot was my
verbasing vroeg een Saterdagaand toe ons gou by hulle gaan inloer het. Die deur is deur Mary oopgemaak
met ʼn elektriese skeermes in haar hand en skeerskuim op haar wange waardeur ʼn mens duidelik die
blouswart baard kon sien.
Die hele munisipale gebied van Pretoria is deeglik by Athos verteenwoordig, van Hercules tot die Moot tot
Waverley, Lynnwood en Waterkloof. Om van Queenswood en Faerie Glenn nie eens te praat nie! En daar
was besoekers… Athos se roem het ver versprei, sodat daar ʼn lojale faksie Johannesburgers was wat elke
naweek getrou hul poste kom volstaan het. As studente aan die destydse RAU – vandag se Universiteit van
Johannesburg – was daar geen groter avontuur vir Sheree, Tracy en Vesta om Saterdae Pretoria toe te
ryloop nie. Nie alleen het Sheree se suster Karen, die lugmag stafsersant, en haar wildekatwyfie minnares
Hanna in Pretoria gewoon nie maar Athos was verslawend.
Onder die macho-mense het Dik Lynn & Lynn Blouwildebees, wat oor ʼn rooi daklose Beach Buggie beskik
het, prominente posisies beklee. Hulle is ook Dik en Dikkerder genoem omdat Blouwildebees dik maar Dik
Lynn dikker was. Blouwildebees was blas met swart hare, mieliepittande en effe korter as Dikkerder wat
met haar ligte vel omslagtig en gewigtig was soos ʼn swaarlywige sneeuman. Beide Lynn’e het “shaggy
dog” haarstyle en hipsterbroeke gedra, met boude en mae wat alkante uit die broek gepeul en daaroor
gehang het.
Met al die sosialisering het die RAU-vriendinne mettertyd ook met Dik en Dikkerder kennis gemaak. Dis
belangrik om te weet dat uiters macho-mense graag die teenoorgestelde tipe van hul eie geslag verkies.
6
Dié drie lipstiflet-studente het so reg in die dikkeres se smaak geval. Gevolglik het die twee Lynne uit hul
pad gegaan om die motorlose studente te akkommodeer en hulle selfs een Saterdagaand by die Melville
Hotel – ʼn veilige afstand van die kampus – in Johannesburg gaan oplaai vir ʼn vreugdevolle aand by Athos.
Ja, die Lynn’e was behoorlik bekoor deur die studente en het gereeld geskakel om te verneem wanneer
daar weer gejol gaan word. Studente sukkel maar dikwels met geld. Gelukkig het Sheree ʼn besliste bron
van inkomste gehad: beeste wat haar peetouers aan haar geskenk het. Elke keer wanneer daar behoefte
ontstaan het, het sy dus ʼn bees van die hand gesit. En watter nood kan groter wees as die behoefte aan
sosialisering? Die beeste het hulle op haar grootouers, Oupa en Ouma Izak, se plaas buite Klerksdorp
bevind.
Sheree se mees betroubare klant was Oupa en Ouma Izak se dominee op Klerksdorp. So het dit gekom dat
sy ʼn koei vir R70 aan die dominee verkoop het. Die koei was reeds by die eerwaarde; dit was net ʼn kwessie
van om die geld te gaan haal. Toe Dik en Dikkerder van die situasie verneem, was hulle maar al te dankbaar
om hul vervoerdiens aan Sheree en haar vriendinne beskikbaar te stel. Dit sou onwys wees om in die
geselskap van die Lynn’e gesien te word. Daarom het sy, Tracy en Vesta die daklose rooi Beach Buggie by
die universiteit se magasyn op ʼn afgeleë deel van die kampus ontmoet… en hulle is vort, Klerksdsorp toe.
Die winderige reis het voorspoedig verloop en die Beach Buggie het onder die druiwepriëel by die dominee
se huis tot stilstand gekom. Die lot van hulle is hartlik deur die dominee en sy vrou verwelkom en het ʼn
lekker koppie tee gedrink. Wat die eerwaarde en Mev Dominee se indruk van die Lynn’e was, sou g’n mens
weet nie. R70 ryker vertrek die afvaardiging toe weer terug Johannesburg toe, met die doel om eindelik
saam Athos toe te gaan. Of so het Dik Lynn en Lynn Blouwildebees gedink. Sheree en haar vriendinne het
ander planne gehad.
Terug by Amper Daar het Dik Lynn die Beach Buggie voor die koshuis parkeer sonder dat enigeen gelukkig
die vreemde groepie gade slaan. Sheree het hulle petrolgeld betaal en meegedeel dat aangesien dit byna
8nm was, sy en haar vriendinne moontlik nie toestemming sou kry om uit te gaan nie. In so ʼn geval moes
die Lynn’e dan maar op hul eie die plesiere van Athos gaan geniet. Sheree, Tracy en Vesta was verheug toe
8nm aanbreek en het gereken dat hulle veilig was waar hulle op die 16de vloer van die brandtrap afgekyk
het op die rooi motortjie daar onder.
Tot hulle skok word hulle toe net daarna “gevoordeur.” Dik en Dikkerder het wraggies by Amper Daar
ingewaggel, navraag gedoen en name genoem. Vreemd, want mans is volgens die reëls nie ná 8nm
binnegelaat nie en die Lynn’e het meer man as meeste gelyk. Die eerstejaar aan diens was klaarblyklik deur
die dikkes geïntimideer en gaan roep toe ʼn Senior. Net daar benut die Lynn’e toe die kans en neem die
hyser na die 16de vloer, want een van die drie studente het voorheen haar mond verby gepraat.
7
Deur die voorsienigheid het Sheree voorsorg getref deur die kamerdeur te sluit. ʼn Koshuisvloer in Amper
Daar het agt kamers gehad wat ʼn kuierruimte in die middel by die hyser omring het. Bokant die kamers se
deure was daar venstertjies sonder gordyne waardeur jy kon kyk indien jy op ʼn stoel staan. Toe die
hyserdeur oopmaak, skuif Sheree onder die een bed in, en Tracy en Vesta onder die ander.
Presies soos verwag, begin Dik Lynn en Lynn Blouwildebees toe stelselmatig die kamers bespied…
Dikkerder het gebuk, Blouwildebees het op haar rug geklim en deur daardie venster geloer. Synde ʼn
Saterdagaand, was daar nie veel mense nie maar Sheree se buurvrou was wel daar. Toe daar ʼn geskokte
hyg en deurborende gil langsaan opklink, het Sheree geweet dat sy die regte voorsorg getref het, want die
volgende oomblik was daar ʼn gesteun en geskuifel voor haar kamerdeur.
Die gil het die aandag van ʼn vierdejaar huiskomiteelid op die vloer getrek wat met die groteske skouspel
van Blouwildebees bo-op Dikkerder wat deur die venster loer, gekonfronteer is. Sonder versuim het sy
alarm gemaak deur die koshuisvader en al wat sekuriteit is, se hulp in te roep, terwyl die buurvrou langsaan
nog vreesbevange gil as gevolg van die visioen wat in die venster bokant haar deur verskyn het.
Wat volgende gebeur het, is nie duidelik nie. Die drie studente onder die beddens het verdere gille gehoor
en ʼn ruk daarna vinnige voetvalle en baie stemme, waaronder dié van die koshuisvader en huiskomiteelid.
Ná die verloop van sowat ʼn halfuur het alles tot bedaring gekom. Dis moontlik dat die onwelkome
besoekers die aftog geblaas het met die brandtrap af na buite. Een ding is egter seker: Tot vandag toe
wonder Dik Lynn en Lynn Blouwildebees waarheen die drie studente daardie aand verdwyn het.
8
II Ailsa en Broer en die Big Bust
In daardie jare was Broer in ʼn verhouding met Sharon C, ʼn lid van Pretoria se Engelse aristokrasie. Me C
was altyd deftig geklee soos dit ʼn jong suksesvolle sakevrou betaam en het die mooiste Engels gebesig
met al die toepaslike idiome en uitdrukkings van daardie tyd. Sy was ʼn perderuiter en het verskeie perde
van haar eie gehad. Net ek het die aantrekking tussen Broer en Sharon vreemd gevind.
Want aristokrasie was ver van Broer se agtergrond of persoonlikheid verwyder. Vir iemand van Griekse
afkoms was haar Afrikaans suiwer en haar Engels idiomaties. Broer het egter ʼn verbeteringskool
bygewoon en het haar brood met hande-arbeid in fabrieke verdien. Dom was sy beslis nie, en met haar sin
vir humor het niks geskort nie. “What’s too ergue is too ergue” is ʼn uitdrukking wat ek by Broer geleen het.
Haar vooruitstrewende suster was ʼn bestuurderes by ʼn motorverhuringsmaatskappy.
Lenig en seningrig, het Broer soos ʼn blasser K. D. Laing gelyk. Haar voorkoms was dié van ʼn Beatnik
hoewel sy heel waarskynlik nooit van die beatniks gehoor het nie. Daar was iets besonders sexy aan haar.
Sy was ook meestal innemend en sjarmant. Vele Pretoriase kunstenaars het om haar gewentel: skilders en
beeldhouers van beide geslagte en ʼn wye verskeidenheid jong dames – hoofsaaklik uit die sakewêreld –
wat Broer se voorliefde vir dagga gedeel het.
Benewens Broer is die huis deur Ailsa bewoon, ʼn lang, slanke blonde meisie van Skotse afkoms met ʼn
hiperkoel houding waaronder daar die diepste empatie en liefde geskuil het. Ailsa was in die Lugmag, in ʼn
besonder voordelige posisie as verlofklerk in die personeelafdeling. Sy het dus die meeste verlof van almal
in die weermag in daardie tydperk geneem, aangesien haar verlofvorms in ʼn laai beland het en vernietig is
by haar terugkeer.
Ja, die huis in Skinnerstraat was ʼn daggaden. Broer het oor verskeie leweransiers beskik waarvan ʼn sekere
Spikkels een was, ʼn lang maer ou wat ook nogal op ʼn beatnik getrek het. Leweransiers was belangrik
aangesien die konsumpsie in daardie huis besonder hoog was. Aanvanklik was die voorraad net vir eie
gebruik maar Broer het later self ʼn kleinhandelaar geword.
Dit was ʼn fout, want ʼn gewilde huis in die middel van Pretoria, daggahandel en Lesbiese jaloesie is ʼn
vlambare brousel.
Me Sharon C het elke naweek daar deurgebring, sowel as ʼn “bevy” van meisies soos die
skoonheidskundige Charmaine, klein blonde Leigh en haar donkerkop minnares Berenice, die dogters van
sekere lede van die Afrikaanse Waterkloof-aristokrasie, kunstenaars soos die klein ronde Patrys, die grote
9
beer André en sy lovers en selfs ook ʼn dienspligtige wat Welconal pynpille uit die lugmag Mirages se
medisyne noodvoorraadpakkies vir vlieëniers gesteel het.
En natuurlik Ingrid, wat obsessief gebabbel het, met greep-uitdrukkings soos “Knorimean?” (Do you know
what I mean?), “Now bear with me carefully” en “geddit?” om die gewoonlik onwillige luisteraar se aandag
te hou.Tog kon Ingrid ook boeiende staaltjies vertel, soos die een wat verewig is in die grafiese kortverhaal
Maxie's Revenge: An Illustrated Short Story wat in biblioteke in Bloemfontein, Johannesburg, Kaapstad,
Pietermaritzburg en Pretoria beskikbaar is. Dié publikasie het in Junie 2004 deel uitgemaak van ʼn
uitstalling van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, met die titel: Sequential Art – comics and picture
stories.
Naweek-aktiwiteite het hoofsaaklik die speletjie “Yatsi” en die kyk van video’s behels. ʼn Gunsteling
tydverdryf van Broer op Sondae was om pinball in kafees te speel. Saterdagaande is daar gewoonlik ʼn
draai by die gay klub gegooi hoewel Me C nooit haar gesig daar gewys het nie en Broer dus in daardie tyd
nie saamgegaan het nie.
Van die meer verfynde besoekers aan Skinnerstraat was bekend met al die belowende jong skrywers en
digters van Pretoria. Op ʼn stadium het Ailsa, Koos, Pierre en ek ʼn gedigtevoorlesing in ʼn
kunstenaarskolonie, Rondegeluk, ʼn sonderlinge klein woonstelkompleks, bygewoon. Ailsa se indrukke
daarvan word in haar gedig Insight and Execution* weergegee:
10
Insight and Execution
For Pieter
Let’s get together,
you know
I enjoy it so.
To rip them apart,
not really the art,
but the
people that are new
at any old do.
It’s hysterically funny,
isn’t he a bunny?
And that one there,
has no hair!
We should spend
more time
together,
not in the heather.
We drink
from the same cup,
so we can send
them all up.
11
Die huis in Skinnerstraat is netjies gehou deur die huiswerkster, Onica, wat in die agterplaas gewoon het.
Mens sou nooit verwag dat dit ʼn Boheemse dagganes was nie weens Onica se vlytige werk. Dit was lekker
om met Onica in die kombuis te gesels.
Broer se pa was maar altyd met semi-klandestiene besighede bedrywig. Op ʼn keer het ek saam met Broer
sy pakhuis besoek, waartydens hy onophoudelik winde gelaat het en dan ʼn onsigbare Khoisan daarvoor
blameer het. Selfs Broer was verleë daaroor.
Sondagaande het Me Sharon C en Broer by haar pa en sy vriendin blou films gaan kyk. Tot heden en
vandag toe skok dié feit my.
Broer het oor ʼn motorfiets en ʼn kragtige motor beskik wat moontlik deur haar pa help betaal is. Lank
voordat dit mode was, het Broer reeds aan akute padwoede gely. Om saam met haar te ry, was ʼn
nagmerrie van verbale “jou fokken poes’e” en vingergebaar “fokjou’s” en selfs meer aggressiewe
optredes. Broer het haar motor soos ʼn wapen ingespan.
Sy het selfs nie daarvan weggeskram om die polisie uit te tart nie. Op ʼn keer het Pierre saam met Broer en
Ailsa gaan pizza koop. Op pad terug na Pierre en Richard se woonstel naby die polisiehoofkwartier in
Polwin Flats het hulle ʼn “hot box” in die motor gemaak – dagga gerook met vensters toe. Voor hulle het ʼn
polisievangwa te stadig na Broer se sin gery.
Sy steek toe die vangwa verby, swaai daarvoor in en ry op ʼn slakkepas voor hom om die bestuurder te
irriteer. Daarop het die ligte begin flits en sirene aangegaan, waarop Broer teen ʼn helse spoed weggetrek
het met die vangwa agterna. By Polwin aangekom, het Broer eenvoudig netjies geparkeer terwyl die
vangwa met skreeuende bande stilhou.
Ewe kalm het Broer vir Pierre aangesê om die pizzas na die woonstel op te neem, terwyl sy die probleem
met die polisie uitstryk. Ailsa het saam met haar op die sypaadjie gewag. Vyftien minute later het die twee
van hulle ewe vrolik by die woonstel op die 17de vloer ingestap. Want Broer was gaaf en innemend.
Heelwat later het Ailsa, Broer en Pierre by ʼn perspexfabriek in Mitchellstraat wat neontekens vervaardig
het, gewerk. Pierre het ontwerpe gedoen, Ailsa het die fyn afmetings op die gevorderde masjinerie
ingestel en Broer het die meeste van die snywerk uitgevoer. Etenstye het hulle in die agterplaas op die dak
van ʼn stoorkamer gesit en dagga rook.
Op daardie stadium het broer by ʼn getroude paartjie in die voorstede gewoon. Haar vriendin, die vrou, se
naam was Tannie. Dis waar Broer haar voorliefde vir Lexotan opgetel het. Sy het ses per dag geneem,
saam met Tannie dagga gerook, etenstyd weer dagga gerook, en natuurlik saans ná werk nogmaals
gerook en meer Lexotan geneem.
12
Van die dak af was daar ʼn wye uitsig. Soms wanneer ʼn mooi vrou in die straat daar onder verbygestap het,
het Broer haar vuiste gebal en rukbewegings met haar heupe uitgevoer terwyl sy haar bewondering
uitspreek met: “Check daai mooi cherrie.”
Die eienaar, meneer T, het uitstekend met Ailsa oor die weg gekom maar was skrikkerig vir Broer. Hy het ʼn
kaalkop gehad en Broer het hom “Chrome Dome” en “Vleiskuif” gedoop, benamings wat sommer vinnig
deur die ander fabriekswerkers oorgeneem is.
Die aristokratiese Me C was teen daardie tyd vergete dus het Broer gereeld die gay klub in Potgeieterstraat
saam met die ander vriende besoek. Daar was ʼn ruim parkeerterrein langs die klub, teenaan ʼn oop stuk
veld. Een aand moes Pierre gaan piepie maar die toilette was beset dus het hy besluit om dit aan die ver
kant van die parkeerterrein te doen. Broer het saamgestap.
Om een of ander rede, moontlik dronkenskap, het Pierre op sy hurke gaan sit en piepie. Nie Broer nie.
Nadat sy haar broek en pantie tot op die enkels afgetrek het, het sy haar middellyf ver vorentoe uitgestoot
en daarin geslaag om vorentoe, soos ʼn man, te piepie.
Maar om tot die vroeë 1980s en haar daggahandel terug te keer.
Dit was onwys om die huis ʼn afsetpunt te maak want die kleinhandel het gaandeweg al hoe meer klante
aangetrek, en vanselfsprekend al hoe meer onbekendes.
Ek was in die weermag maar het omtrent elke aand met Ailsa oor die foon gesels. Op ʼn keer kon ek die
aand geen antwoord kry nie, wat my nogal bekommer het. Die volgende dag skakel ek toe van die werk af
en op my navraag, antwoord Onica: “Hy’s ammal gavang.”
Weens die jaloesie van ʼn gay dametjie, ene Camel, het die polisie op ʼn weeksaand op die huis in
Skinnerstraat toegeslaan. Camel was op die beeldhoudster verlief wat intussen ʼn verhouding met Ailsa
aangeknoop het, ʼn verhouding wat jare geduur het totdat Ailsa eindelik deur ʼn Regter vervang is.
Soos die (on)geluk dit wou hê, was almal behalwe Me C daar… ook die kunstenaars en dogters van die
Waterkloof aristokrate. Wat seker ʼn goeie ding was, want hul ouers het, toe hulle daarvan te hore kom,
onmiddellik hul kinders uit die tronk gekry. Broer was die langste daar – twee dae. Behalwe die skok was
daar nie werklik ernstige reperkussies nie. By die hofsaak is almal met waarskuwings laat gaan behalwe
Broer wat haar ʼn opgeskorte vonnis en ʼn paroolbeampte op die hals gehaal het.
Die daggarokery het natuurlik nie opgehou nie maar meer diskreet plaasgevind. Die eintlike doring in Broer
se vlees was die parooldame wat tydens die eerste ontmoeting ʼn onderhoud met haar gevoer het.
Moontlik was dit ʼn tipe begripstoets, want een van die vrae was wanneer Jan van Riebeeck aan die Kaap
voet aan wal gesit het. Broer was eers verontwaardig en later rasend van woede oor daardie vraag, vir
weke lank.
13
Ek onthou nog hoe sy daaroor uitgevaar het. “Ek weet die fokken Hollander het in die 17de eeu hier geland
maar wat de moer het dit met my lewe te doen?
Kort daarna het Ailsa die gebeure netjies in ʼn gedig* saamgevat:
The Big Bust
Them came,
what a
beautiful frame,
them stripped us of our
dignity.
On the wall we read
graffiti.
Food for thought,
don’t you
think we ought
to find
something like legal
advice.
What’s the use,
what a deuce
of a thing to happen
to someone who
doesn’t believe in
the system
anyway.
14
III Elvis van Athos
1978 was die eintlike jaar van Disco in Suid-Afrika en Athos in Pretoria was ’n tempel daarvan. Aan die
westekant van Pretoria se middestad, naby waar Schoeman- in Potgieterstraat doodloop, was die klub in ’n
snags verlate area geleë. ’n Gang wat eindig in ’n stel trappe het toegang tot Athos verleen. Wanneer jy deur
die hek stap, het ’n magiese wonderwêreld rondom jou ontvou. Eers het die swart en wit dansvloer jou
opgeval, en soos jou oë aan die disco-ligte gewoond raak, sien jy die tafels en stoele en aan die agterkant ’n
verhogie met nóg sitplekke wat ’n ruim uitsig oor die dansvloer bied.
Daarna, onwillekeurig, merk jy die kleurvolle mense op. Tipes wat jy nooit in jou ergste koorsdrome as
inwoners van Pretoria sou kon indink nie. Flambojante drag queens, soos die lang blonde Penny en die
statige Mary wat daardie jaar as Mej Athos gekroon is. Uitspattig geklede ander queens maar ook mooi, fris
jong boerseuns in denim en T-hemde of frokkies. Straight vriende wat aan die pret kom meedoen, veral kuns-
en dramastudente van Tuks. Selfs ou mense – ouers of grootouers van die klubgangers. En dan was daar die
lettas… beeldskone lipstif-lettas, weermaglettas van “normaal” tot baie butch en lywig, te kus en te keur.
Aan rare spesies het Athos nooit mank gegaan nie. Die klub was die speelplek van Iskor-kraandrywers en
kunsdosente, van hoere en geneeshere, van jollers uit Faerie Glenn en Queenswood sowel as Daspoort,
Danville en Proklamasieheuwel. Onder hulle was daar spesies waarvan dit onmoontlik was om die geslag te
bepaal: skraal, lenige tipes wat jou aan ʼn Patti Smith in haar tomboyfase herinner het. Maar wat my
verbeelding summier aangegryp het, was die ryke verskeidenheid lesbiërs: Groot, klein, rond, lank, skraal en
natuurlik die gesofistikeerde lipstif-tipes. Om heeltemal eerlik te wees, het die butch lettas my die meeste
geboei ten afkeur van my gay mansvriende wat my teen hulle vermaan het. Dit was skadelik vir ʼn mens se
beeld.
Hier het jy sommer drie jaar se grootste disco-treffers in een aand geniet. Onder die immergroen
dansvloergunstelinge was Giorgio Moroder se hipnotiese From Here To Eternity, Grace Jones se risqué I Need
A Man, Laurie Marshall se erotiese We Will Make Love, die Michael Zager Band se bekorende Let’s All Chant
en die immergewilde I Feel Love van Donna Summer. Vroegoggend so twee-uur word die klub in blou lig
gebaai vir die ritueel van Grace Jones se romantiese La Vie en Rose, waarop die lettas “close” gedans het.
Soms komieklik wanneer albei dikketjies was sodat hulle vooroor moes buk om mekaar te omhels, soos in
die geval van Celia Pampoenstreep en haar ewe lywige minnares.
Maar Pampoenstreep was vriendelik en minsaam. Die ewe dikke maar langer Toska Ossewana wat as
beskutte arbeid by die staatsdrukker gewerk het, was uitspattig en “common” maar ook onskadelik. En die
slanke lipstif-letta Lynn Polse wat dikwels in die gang na die toilette staan en ween het, sou g’n moffie leed
15
aandoen nie. Die snymerke op haar polse was te wyte aan ander lesbiërs se ongevoeligheid. Soos die blonde
Marjorie, wat haar hart gewetenloos gebreek het. Daar’s egter altyd uitsonderings… karakters by wie
geweld altyd ʼn opsie was indien jy hul vriende sou beledig of enige gebaar maak wat as vyandig beskou kon
word. Sulke mense was Shane en Elvis.
Daar’s nooit konsensus verkry oor Shane se regte naam nie. Sommige beweer dit was Shana, ander Shano.
Moontlik was haar doopnaam Shana wat toe vir die klub se doeleindes na Shano aangepas is en eindelik na
Shane verkort is onder invloed van die destyds gewilde TV-reeks Shane. Sy was skraal en seningrig soos die
sangeres KD Laing, en donker, met pikswart kort hare en ʼn blas vel. Haar voorkoms het ʼn element van
sletterigheid bevat en haar houding was dié van ʼn roofdier. Jy het sommer aangevoel dat jy wye draaie om
Shane moes gooi.
Haar vriendin Elvis, daarenteen, was groot en dik. ʼn Blok van ʼn vrou met ʼn ronde maangesig, en bedonnerd.
Elvis het dag en nag kortbroek khaki safaripakke gedra met ʼn swart kam in die kous.
Haar groot vriendekring het beide letties en moffies ingesluit, almal uit die westelike voorstede van Pretoria.
Jockie was een van hulle. Sy is so genoem omdat sy Jockie onderbroeke gedra het.
Daar is geglo dat beide Shane en Elvis hyskraandrywers was maar eintlik was sy ʼn busdrywer. Sy het ook op
ʼn stadium sekere take in Club Athos verrig, waaronder die skoonmaak van toilette en vervang van toiletrolle.
Shane en Elvis het hul sigarette in die buitenste vou van hul opgerolde moue byderhand gehou. Elvis kon
lekker grootpraat. Het onder andere vertel dat haar darts 5 kg weeg. Ja, veerpyltjies was besonder gewild
in dié geledere.
Elvis-hulle het ʼn ritueel gehad om hul manlikheid te bewys. By 'n braai sou die butch met haar kaal hande 'n
stuk van die braaivleis op die rooster afbreek en aan die fem oorhandig met die woord: "proestukkie".
Net die mees ingeligtes was destyds daarvan bewus dat beide Shane en Elvis ook Bok- en Foxstrate aan die
oostekant van Kerkplein bewandel het om hul inkomste aan te vul. Van Shane is dit makliker om te glo maar
ʼn mens sukkel steeds om daardie sy van Elvis te verwerk. Die butch Elvis wat spitsvondighede kwytgeraak
het soos: “Jy’t nog nie swiets geëet as jy nog nie tjoklits geëet het nie.” Die gevreesde Elvis wat deur almal
in Klub Athos met ontsag behandel is. Die formidabele Elvis wat enigiemand sou donner wat iets leliks oor
haar vriende kwytraak. Miskien was hul clientele straight mans wat rowwe ervarings nagejaag het. Ter
stawing kan mens byvoeg dat albei valstande gehad het, om beter te kan suig, my kind.
Onder die créme de la créme van die moffies, was niemand meer gesog as Koos nie. Dis juis hy wat my
aangespreek het oor my ondeurdagte bewondering vir, en sosiale omgang met, die lettas. Die aanvallige
Mary, Mej Athos 1978, en Poppie, ʼn letta wat vir die HNP gewerk het, het ʼn woonstel in Arcadia in dieselfde
blok as Koos gedeel. Dus was daar volop sosiale bedrywighede by daardie woonstelblok oorkant Haaspark
16
in Pretoria. Synde so aantreklik en gewild, het Koos geen skaarste aan belangstelling ervaar nie. Morné was
een so ʼn belangstellende, maar iemand het beweer dat Morné ʼn Clora was. Gevolglik het Koos daaroor
navraag gedoen. Klieke het egter vele ore en gerugte oor navrae versprei vinnig.
Hoewel daar ook verskillende tipes klieke bestaan. Neem nou maar die kliek waaraan Pierre behoort het. ʼn
Streng diskriminerende slegs-moffies groep, waarin daar geen sprake van lesbiërs as lede was nie. Straight
mense Ja, lettas Nee. Dalk eerder ʼn anti-letta kliek omdat ʼn mak straight wel nou en dan daarin aanvaar is.
Die butch tipe letta is trouens in daardie kringe as die Antichris beskou. Hul blote bestaan het aanstoot gegee
en by Athos is hulle teenwoordigheid meestal ontken en geïgnoreer. Behalwe daardie aand, toe Pierre
homself nie kon keer nie. Sy groep het ʼn hele tafel beset op die verhogie met die mooi uitsig… en deel van
die uitsig daardie aand was Elvis en haar minnares by ʼn tafel onder langs die dansvloer. Uiteraard het dié
steurnis in die milieu-estetika ʼn rol by Pierre se optrede gespeel.
Elvis, as leier van haar geïntegreerde bende lettas en mowwe, het haar verantwoordelikhede ernstig
opgeneem. Soos vermeld, durf niemand ʼn skewe woord oor enige van haar bendelede uiter nie. Tydens die
verloop van die aand het die gegriefde Morné die verdagte, Koos, wat saam met sy “affair” Dewald
Poliesman daar baljaar het, aan Elvis uitgewys. Koos, wat bloot navrae gerig het oor Morné se Clora-wees
aldan nie. Dus was daar reeds onheil in die lug maar Morné sou nie waag om Koos direk te konfronteer nie
omdat Dewald Poliesman ʼn fris boerseun was. ʼn Gawe, vriendelike knaap met ʼn mooi, oop gesig maar
duidelik nie iemand met wie jy sukkel nie.
Die volgende oomblik tref ʼn opgerolde papiertjie Elvis teen die agterkop. Pierre, uit irritasie met haar
teenwoordigheid as milieu-bevlekker het talryke missiele afgevuur en een daarvan het eindelik die teiken
getref. Gelukkig het Pierre se engelgesiggie hom heeltemal as skuldige uitgeskakel. Daarby het sy
akteursvaardigheid bygedra om hom selfs nog meer engelagtig te laat voorkom. Toe die toornige Elvis dus
met bultende spiere en polsende nek-are daar opstaan, was Pierre die onskuld vanself. Dit was die
niksvermoedende Albert langs hom wat die toorn van Elvis moes ontgeld, toe sy dié brutaal aan sy kraag
opruk en toesnou: “Doen dit weer en ek bliksem jou dood!!!”
Die skok en afgryse by die tafel was tasbaar, en hoewel die missiel uit daardie rigting gekom het, kon Elvis
natuurlik ook nie bo alle twyfel weet dat haar slagoffer wel die skuldige was nie. Dus het sy sy kraag losgelaat
sodat hy in die stoel terugval, en op haar macho manier teruggewaggel na haar sitplek. Nie lank daarna nie
moes sy gaan seker maak dat alles in die damestoilette netjies en in orde was. Nou was sy egter reeds
ontstoke en toe sy Koos in die gang herken – dieselfde gang waar Lynn Polse snot en trane staan en ween –
as die verdagte wat haar bendelid Morné so beswadder het, was die gort gaar.
Sy gryp Koos aan die bors en lig hom teen die muur op. “Het JY gesê Morné is ʼn Clora???” bulder sy in Koos
se gesig. Oorbluf deur die onverwagse aanval, kon Koos geen woord uitkry nie. Weer bulder sy: “Is dit jy???
Ek sal jou vrek bliksem!!!” maar deur die genade van die voorsienigheid – net toe Koos die dringendste
behoefte aan ʼn man ervaar het – kom Dewald Poliesman om die draai op die toneel af.
17
So gespierd soos Dewald was, was hy ook ʼn aangename, koelkop tipe en doeltreffende geskilbeslegter. In
plaas van om Elvis aan te val, het hy haar grimmigheid met ʼn sagte woord afgekeer. Bowendien, ongeag
Elvis se brutaliteit en gebrek aan breinselle, sou geweld haar net benadeel, het sy darem besef. Dewald se
lidmaatskap van die polisiemag was alombekend.
Deur die tussenkoms van die rede is ʼn aanranding en bloedvergieting dus vermy. Dewald se diplomasie het
gesorg dat die saak met waardigheid aan beide kante opgelos is, hoewel Koos nog vir ʼn wyle daarna bleek
om die kiewe was.
Toe 2-uur egter aanbreek, die disco-ligte die klub in blou en indigo baai en die strelende klanke van La Vie en
Rose die ruimte met romanse vul, het beide Elvis en haar minnares, en Koos en Dewald Poliesman, styf teen
mekaar gedans. So het liefde oor geweld getriomfeer.
§§§§§§§§§§§§§§§§§§

More Related Content

More from PieterUys7

Ural-Altaic et Oeral-Altaies
Ural-Altaic et Oeral-AltaiesUral-Altaic et Oeral-Altaies
Ural-Altaic et Oeral-AltaiesPieterUys7
 
Prototale van Afrika en Eurasie
Prototale van Afrika en EurasiePrototale van Afrika en Eurasie
Prototale van Afrika en EurasiePieterUys7
 
Die Engelse Taal
Die Engelse TaalDie Engelse Taal
Die Engelse TaalPieterUys7
 
Eurasiatic and Dene-Sino-Caucasian
Eurasiatic and Dene-Sino-CaucasianEurasiatic and Dene-Sino-Caucasian
Eurasiatic and Dene-Sino-CaucasianPieterUys7
 
The Pretorian Underground
The Pretorian UndergroundThe Pretorian Underground
The Pretorian UndergroundPieterUys7
 
Hond en kat in die oertaal
Hond en kat in die oertaalHond en kat in die oertaal
Hond en kat in die oertaalPieterUys7
 
Geronde voorvokale
Geronde voorvokaleGeronde voorvokale
Geronde voorvokalePieterUys7
 
Oorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilie
Oorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilieOorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilie
Oorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamiliePieterUys7
 
Ek, jy en ons in die steentydperk
Ek, jy en ons in die steentydperkEk, jy en ons in die steentydperk
Ek, jy en ons in die steentydperkPieterUys7
 
Bories en Betekenis (Borean and semantics)
Bories en Betekenis (Borean and semantics)Bories en Betekenis (Borean and semantics)
Bories en Betekenis (Borean and semantics)PieterUys7
 
Thiudiskaz: Teutoniese of Germaanse tale
Thiudiskaz: Teutoniese of Germaanse taleThiudiskaz: Teutoniese of Germaanse tale
Thiudiskaz: Teutoniese of Germaanse talePieterUys7
 
Khoisan as taalfamilie
Khoisan as taalfamilieKhoisan as taalfamilie
Khoisan as taalfamiliePieterUys7
 
Amerindies: Tale van die Amerikas
Amerindies: Tale van die AmerikasAmerindies: Tale van die Amerikas
Amerindies: Tale van die AmerikasPieterUys7
 
Makro Khoisan
Makro Khoisan Makro Khoisan
Makro Khoisan PieterUys7
 
Germaanse oorsprong
Germaanse oorsprong Germaanse oorsprong
Germaanse oorsprong PieterUys7
 
Kleiner Germaanse Tale
Kleiner Germaanse TaleKleiner Germaanse Tale
Kleiner Germaanse TalePieterUys7
 
Urartu, Urmia, Aratta, Armenia
Urartu, Urmia, Aratta, ArmeniaUrartu, Urmia, Aratta, Armenia
Urartu, Urmia, Aratta, ArmeniaPieterUys7
 
Amazigh en Austronesies
Amazigh en Austronesies Amazigh en Austronesies
Amazigh en Austronesies PieterUys7
 
Vreemdste tale
Vreemdste tale Vreemdste tale
Vreemdste tale PieterUys7
 

More from PieterUys7 (20)

Ural-Altaic et Oeral-Altaies
Ural-Altaic et Oeral-AltaiesUral-Altaic et Oeral-Altaies
Ural-Altaic et Oeral-Altaies
 
Prototale van Afrika en Eurasie
Prototale van Afrika en EurasiePrototale van Afrika en Eurasie
Prototale van Afrika en Eurasie
 
Die Engelse Taal
Die Engelse TaalDie Engelse Taal
Die Engelse Taal
 
Eurasiatic and Dene-Sino-Caucasian
Eurasiatic and Dene-Sino-CaucasianEurasiatic and Dene-Sino-Caucasian
Eurasiatic and Dene-Sino-Caucasian
 
Eurasiaties
Eurasiaties Eurasiaties
Eurasiaties
 
The Pretorian Underground
The Pretorian UndergroundThe Pretorian Underground
The Pretorian Underground
 
Hond en kat in die oertaal
Hond en kat in die oertaalHond en kat in die oertaal
Hond en kat in die oertaal
 
Geronde voorvokale
Geronde voorvokaleGeronde voorvokale
Geronde voorvokale
 
Oorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilie
Oorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilieOorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilie
Oorsprong en ontwikkeling van die Proto-Indo-Europese taalfamilie
 
Ek, jy en ons in die steentydperk
Ek, jy en ons in die steentydperkEk, jy en ons in die steentydperk
Ek, jy en ons in die steentydperk
 
Bories en Betekenis (Borean and semantics)
Bories en Betekenis (Borean and semantics)Bories en Betekenis (Borean and semantics)
Bories en Betekenis (Borean and semantics)
 
Thiudiskaz: Teutoniese of Germaanse tale
Thiudiskaz: Teutoniese of Germaanse taleThiudiskaz: Teutoniese of Germaanse tale
Thiudiskaz: Teutoniese of Germaanse tale
 
Khoisan as taalfamilie
Khoisan as taalfamilieKhoisan as taalfamilie
Khoisan as taalfamilie
 
Amerindies: Tale van die Amerikas
Amerindies: Tale van die AmerikasAmerindies: Tale van die Amerikas
Amerindies: Tale van die Amerikas
 
Makro Khoisan
Makro Khoisan Makro Khoisan
Makro Khoisan
 
Germaanse oorsprong
Germaanse oorsprong Germaanse oorsprong
Germaanse oorsprong
 
Kleiner Germaanse Tale
Kleiner Germaanse TaleKleiner Germaanse Tale
Kleiner Germaanse Tale
 
Urartu, Urmia, Aratta, Armenia
Urartu, Urmia, Aratta, ArmeniaUrartu, Urmia, Aratta, Armenia
Urartu, Urmia, Aratta, Armenia
 
Amazigh en Austronesies
Amazigh en Austronesies Amazigh en Austronesies
Amazigh en Austronesies
 
Vreemdste tale
Vreemdste tale Vreemdste tale
Vreemdste tale
 

Kaskenades van die Agtermekaarkêrels

  • 1. 1
  • 2. 2 Kaskenades van die Agtermekaarkêrels Pieter Uys, Sheree Rayfield, Pierre Knobel, Koos Heymans
  • 3. 3 Drie grepe uit Johannesburg en Pretoria se ondergrondse naglewe in die Sewentigerjare, op 'n Disco-klankbaan. Drie boeiende narratiewe uit die destydse klubkultuur. Drie staaltjies wat jou na jou asem sal laat snak oor wat kleurvolle karakters soos Ailsa, Broer, Elvis, Dik Lynn en Lynn Blouwildebees, Jakes, Jungle en Prowler alles aangevang het. Karakters wie se blote bestaan oorle Oom Paul Kruger in sy graf sou laat rondtol. Ja, benewens die Koeksisters was daar ook die Kieriejollers! Verslawende verhale van pret, passie, perversie, prostitusie, drank, dwelms, geweld en gemeenskap in die bisarre dog glansryke milieu van Club Athos in Schoemanstraat, Pretoria rondom 1978/79.
  • 4. 4 I Dik Lynn en Lynn Blouwildebees In elke tydvak beloon Johannesburg, en soms ook Pretoria, dié wat hardnekkig daarna soek, met verrassende sierade van plek of milieu. Die oorgrote meerderheid jongelinge wat in die jare sewentig aan RAU (Universiteit Johannesburg) gestudeer het, het geen behoefte aan of selfs kennis van subkulture gedra nie. Selfs die suiwerste utopie bevat egter deviante, bohemers en andersdenkendes met hul eie, sonderlinge behoeftes. ʼn ʼn Christelik-Nasionale uiterlike – by RAU moes ʼn mens nog daardie tyd baadjie en das dra lesings toe – het sulke neigings doeltreffend verbloem. Die openlike rebelle wat deur houding en kleredrag die gesag uitgedaag het, is met deernis en belangstelling bejeën want hulle het nooit langer as die eerste semester gehou nie. Vir die alternatiewe jongeling was daar in die middel sewentigs twee aangrypende musiekstrominge waarvan die meeste mense net een gekies het: punk en disco. Ek het beide met gretige arms aangegryp omdat hulle albei op sy eie manier subversief was. Disco was net heelwat meer subtiel daaroor. Net ʼn paar maande na Donna Summer se Once Upon a Time het The Scream van Siouxsie and The Banshees en Germ Free Adolescents van X Ray Spex my vinielversameling verryk. Disco het die hele wêreld laat dans, van New York tot LA, München tot Montevideo en Yokohama tot Johannesburg. Rondom 1977/78 was Mandy’s en die ou staatmaker, Dungeon, die gewildste alternatiewe disco’s in die goudstad. Tog het Klub Athos in Pretoria ʼn onweerstaanbare attraksie uitgeoefen. Daar in Schoemanstraat was die polsende klanke van disco die heuglike bewys daarvan dat die hoofstad steeds in sinergie met al die belangrikste wêreldstede resoneer, ten spyte van die land se toenemende politieke isolasie. Die heerlikste van die disco-fenomeen was dat al die plate wat “verban” was en dus nie op die radio gehoor is nie, in die klubs die lywe laat wikkel het. Snitte soos die gewaagde I Need A Man van Grace Jones, Miss You van die Stones, Brown Girl in the Ring van Boney M, Donna Summer se hygende weergawe van Je T'aime (Moi Non Plus), Supernature deur Cerrone, I Wanna Funk With You Tonight van Giorgio Moroder, porno-ster Andrea True se What’s Your Name, What’s Your Number en Celi Bee and the Buzzy Bunch se Macho (A Real, Real, One). Meer plaaslik van aard was daar ook Oom Jan by die Disco deur Salami wat met sy sakkie-sakkie ritme en Jan Spies-stem groot aftrek geniet het, veral onder die macho mense. Wat ons by die klubgangers bring. Inderdaad het daar macho mense, werklike macho mense soos Elvis, Jakes, Prowler, Jungle en Broer by Klub Athos uitgehang. Nêrens sou jy meer macho kry as juis daar nie. Broer was byvoorbeeld beroemd vir padwoede lank voordat die fenomeen berug geword het. ʼn Rit saam met broer deur Pretoria was senutergend, gevul met fokjou-gebare en swetse soos “poes!” Almal het ruim van Brylcream gebruik gemaak en Lexington of Camel gerook en dikwels dagga ook. Die meeste van hulle
  • 5. 5 het bikes gehad, sommige het safaripakke gedra en ander die uniform van blou denim met wit T-hemde. Hulle het groot ontsag afgedwing by die ander klubgangers. Benewens dié macho-mense het drag queens, gewone queens, lieflike lipstif lesbiërs en ʼn rykdom van ander mooi mense die plek op ʼn Vrydag- en Saterdagaand in ʼn magiese wonderwêreld omtower. Onder die boerseuns – hoofsaaklik studente en dienspligtiges – was daar sommer baie talent en selfs ook ʼn minderheid macho’s. Karakters wat na al die jare nog uitstaan was mense soos Johanna Butch-Fem, Dennis, Stephen die verpleër, Klein Johan en Okkie wat later San Francisco toe is. Die term “Reënboognasie” het later ʼn ironiese glimlag by my ontlok wanneer ek die Athos-gangers onthou. Die meeste individue het tot uiteenlopende klieks behoort en uit drasties verskillende sosiale agtergronde gespruit. Sommige klieks was streng eenslagtig, waar alle individue van die teenoorgestelde geslag bloot verdra is. Ander weer, was oop en vloeibaar en heelwat het selfs heteroseksuele ingesluit. Veral gewild was heteroseksuele kuns- en dramastudente van Tukkies. Die mees imposante drag queen was die lang, blonde Penny terwyl die grasieuse Mary, Mejuffrou Athos 1978, nooit ʼn aand misgeloop het nie. Mary het ʼn woonstel met Poppie gedeel, ʼn letta wat by die HNP werksaam was. Dit was oorkant Haaspark in Pretoria waar my Tuks-studentevriende ook gewoon het. Mary en Poppie se teenwoordigheid het buitengewone prestige aan die gebou verleen in die kringe waarin ons beweeg het. Groot was my verbasing vroeg een Saterdagaand toe ons gou by hulle gaan inloer het. Die deur is deur Mary oopgemaak met ʼn elektriese skeermes in haar hand en skeerskuim op haar wange waardeur ʼn mens duidelik die blouswart baard kon sien. Die hele munisipale gebied van Pretoria is deeglik by Athos verteenwoordig, van Hercules tot die Moot tot Waverley, Lynnwood en Waterkloof. Om van Queenswood en Faerie Glenn nie eens te praat nie! En daar was besoekers… Athos se roem het ver versprei, sodat daar ʼn lojale faksie Johannesburgers was wat elke naweek getrou hul poste kom volstaan het. As studente aan die destydse RAU – vandag se Universiteit van Johannesburg – was daar geen groter avontuur vir Sheree, Tracy en Vesta om Saterdae Pretoria toe te ryloop nie. Nie alleen het Sheree se suster Karen, die lugmag stafsersant, en haar wildekatwyfie minnares Hanna in Pretoria gewoon nie maar Athos was verslawend. Onder die macho-mense het Dik Lynn & Lynn Blouwildebees, wat oor ʼn rooi daklose Beach Buggie beskik het, prominente posisies beklee. Hulle is ook Dik en Dikkerder genoem omdat Blouwildebees dik maar Dik Lynn dikker was. Blouwildebees was blas met swart hare, mieliepittande en effe korter as Dikkerder wat met haar ligte vel omslagtig en gewigtig was soos ʼn swaarlywige sneeuman. Beide Lynn’e het “shaggy dog” haarstyle en hipsterbroeke gedra, met boude en mae wat alkante uit die broek gepeul en daaroor gehang het. Met al die sosialisering het die RAU-vriendinne mettertyd ook met Dik en Dikkerder kennis gemaak. Dis belangrik om te weet dat uiters macho-mense graag die teenoorgestelde tipe van hul eie geslag verkies.
  • 6. 6 Dié drie lipstiflet-studente het so reg in die dikkeres se smaak geval. Gevolglik het die twee Lynne uit hul pad gegaan om die motorlose studente te akkommodeer en hulle selfs een Saterdagaand by die Melville Hotel – ʼn veilige afstand van die kampus – in Johannesburg gaan oplaai vir ʼn vreugdevolle aand by Athos. Ja, die Lynn’e was behoorlik bekoor deur die studente en het gereeld geskakel om te verneem wanneer daar weer gejol gaan word. Studente sukkel maar dikwels met geld. Gelukkig het Sheree ʼn besliste bron van inkomste gehad: beeste wat haar peetouers aan haar geskenk het. Elke keer wanneer daar behoefte ontstaan het, het sy dus ʼn bees van die hand gesit. En watter nood kan groter wees as die behoefte aan sosialisering? Die beeste het hulle op haar grootouers, Oupa en Ouma Izak, se plaas buite Klerksdorp bevind. Sheree se mees betroubare klant was Oupa en Ouma Izak se dominee op Klerksdorp. So het dit gekom dat sy ʼn koei vir R70 aan die dominee verkoop het. Die koei was reeds by die eerwaarde; dit was net ʼn kwessie van om die geld te gaan haal. Toe Dik en Dikkerder van die situasie verneem, was hulle maar al te dankbaar om hul vervoerdiens aan Sheree en haar vriendinne beskikbaar te stel. Dit sou onwys wees om in die geselskap van die Lynn’e gesien te word. Daarom het sy, Tracy en Vesta die daklose rooi Beach Buggie by die universiteit se magasyn op ʼn afgeleë deel van die kampus ontmoet… en hulle is vort, Klerksdsorp toe. Die winderige reis het voorspoedig verloop en die Beach Buggie het onder die druiwepriëel by die dominee se huis tot stilstand gekom. Die lot van hulle is hartlik deur die dominee en sy vrou verwelkom en het ʼn lekker koppie tee gedrink. Wat die eerwaarde en Mev Dominee se indruk van die Lynn’e was, sou g’n mens weet nie. R70 ryker vertrek die afvaardiging toe weer terug Johannesburg toe, met die doel om eindelik saam Athos toe te gaan. Of so het Dik Lynn en Lynn Blouwildebees gedink. Sheree en haar vriendinne het ander planne gehad. Terug by Amper Daar het Dik Lynn die Beach Buggie voor die koshuis parkeer sonder dat enigeen gelukkig die vreemde groepie gade slaan. Sheree het hulle petrolgeld betaal en meegedeel dat aangesien dit byna 8nm was, sy en haar vriendinne moontlik nie toestemming sou kry om uit te gaan nie. In so ʼn geval moes die Lynn’e dan maar op hul eie die plesiere van Athos gaan geniet. Sheree, Tracy en Vesta was verheug toe 8nm aanbreek en het gereken dat hulle veilig was waar hulle op die 16de vloer van die brandtrap afgekyk het op die rooi motortjie daar onder. Tot hulle skok word hulle toe net daarna “gevoordeur.” Dik en Dikkerder het wraggies by Amper Daar ingewaggel, navraag gedoen en name genoem. Vreemd, want mans is volgens die reëls nie ná 8nm binnegelaat nie en die Lynn’e het meer man as meeste gelyk. Die eerstejaar aan diens was klaarblyklik deur die dikkes geïntimideer en gaan roep toe ʼn Senior. Net daar benut die Lynn’e toe die kans en neem die hyser na die 16de vloer, want een van die drie studente het voorheen haar mond verby gepraat.
  • 7. 7 Deur die voorsienigheid het Sheree voorsorg getref deur die kamerdeur te sluit. ʼn Koshuisvloer in Amper Daar het agt kamers gehad wat ʼn kuierruimte in die middel by die hyser omring het. Bokant die kamers se deure was daar venstertjies sonder gordyne waardeur jy kon kyk indien jy op ʼn stoel staan. Toe die hyserdeur oopmaak, skuif Sheree onder die een bed in, en Tracy en Vesta onder die ander. Presies soos verwag, begin Dik Lynn en Lynn Blouwildebees toe stelselmatig die kamers bespied… Dikkerder het gebuk, Blouwildebees het op haar rug geklim en deur daardie venster geloer. Synde ʼn Saterdagaand, was daar nie veel mense nie maar Sheree se buurvrou was wel daar. Toe daar ʼn geskokte hyg en deurborende gil langsaan opklink, het Sheree geweet dat sy die regte voorsorg getref het, want die volgende oomblik was daar ʼn gesteun en geskuifel voor haar kamerdeur. Die gil het die aandag van ʼn vierdejaar huiskomiteelid op die vloer getrek wat met die groteske skouspel van Blouwildebees bo-op Dikkerder wat deur die venster loer, gekonfronteer is. Sonder versuim het sy alarm gemaak deur die koshuisvader en al wat sekuriteit is, se hulp in te roep, terwyl die buurvrou langsaan nog vreesbevange gil as gevolg van die visioen wat in die venster bokant haar deur verskyn het. Wat volgende gebeur het, is nie duidelik nie. Die drie studente onder die beddens het verdere gille gehoor en ʼn ruk daarna vinnige voetvalle en baie stemme, waaronder dié van die koshuisvader en huiskomiteelid. Ná die verloop van sowat ʼn halfuur het alles tot bedaring gekom. Dis moontlik dat die onwelkome besoekers die aftog geblaas het met die brandtrap af na buite. Een ding is egter seker: Tot vandag toe wonder Dik Lynn en Lynn Blouwildebees waarheen die drie studente daardie aand verdwyn het.
  • 8. 8 II Ailsa en Broer en die Big Bust In daardie jare was Broer in ʼn verhouding met Sharon C, ʼn lid van Pretoria se Engelse aristokrasie. Me C was altyd deftig geklee soos dit ʼn jong suksesvolle sakevrou betaam en het die mooiste Engels gebesig met al die toepaslike idiome en uitdrukkings van daardie tyd. Sy was ʼn perderuiter en het verskeie perde van haar eie gehad. Net ek het die aantrekking tussen Broer en Sharon vreemd gevind. Want aristokrasie was ver van Broer se agtergrond of persoonlikheid verwyder. Vir iemand van Griekse afkoms was haar Afrikaans suiwer en haar Engels idiomaties. Broer het egter ʼn verbeteringskool bygewoon en het haar brood met hande-arbeid in fabrieke verdien. Dom was sy beslis nie, en met haar sin vir humor het niks geskort nie. “What’s too ergue is too ergue” is ʼn uitdrukking wat ek by Broer geleen het. Haar vooruitstrewende suster was ʼn bestuurderes by ʼn motorverhuringsmaatskappy. Lenig en seningrig, het Broer soos ʼn blasser K. D. Laing gelyk. Haar voorkoms was dié van ʼn Beatnik hoewel sy heel waarskynlik nooit van die beatniks gehoor het nie. Daar was iets besonders sexy aan haar. Sy was ook meestal innemend en sjarmant. Vele Pretoriase kunstenaars het om haar gewentel: skilders en beeldhouers van beide geslagte en ʼn wye verskeidenheid jong dames – hoofsaaklik uit die sakewêreld – wat Broer se voorliefde vir dagga gedeel het. Benewens Broer is die huis deur Ailsa bewoon, ʼn lang, slanke blonde meisie van Skotse afkoms met ʼn hiperkoel houding waaronder daar die diepste empatie en liefde geskuil het. Ailsa was in die Lugmag, in ʼn besonder voordelige posisie as verlofklerk in die personeelafdeling. Sy het dus die meeste verlof van almal in die weermag in daardie tydperk geneem, aangesien haar verlofvorms in ʼn laai beland het en vernietig is by haar terugkeer. Ja, die huis in Skinnerstraat was ʼn daggaden. Broer het oor verskeie leweransiers beskik waarvan ʼn sekere Spikkels een was, ʼn lang maer ou wat ook nogal op ʼn beatnik getrek het. Leweransiers was belangrik aangesien die konsumpsie in daardie huis besonder hoog was. Aanvanklik was die voorraad net vir eie gebruik maar Broer het later self ʼn kleinhandelaar geword. Dit was ʼn fout, want ʼn gewilde huis in die middel van Pretoria, daggahandel en Lesbiese jaloesie is ʼn vlambare brousel. Me Sharon C het elke naweek daar deurgebring, sowel as ʼn “bevy” van meisies soos die skoonheidskundige Charmaine, klein blonde Leigh en haar donkerkop minnares Berenice, die dogters van sekere lede van die Afrikaanse Waterkloof-aristokrasie, kunstenaars soos die klein ronde Patrys, die grote
  • 9. 9 beer André en sy lovers en selfs ook ʼn dienspligtige wat Welconal pynpille uit die lugmag Mirages se medisyne noodvoorraadpakkies vir vlieëniers gesteel het. En natuurlik Ingrid, wat obsessief gebabbel het, met greep-uitdrukkings soos “Knorimean?” (Do you know what I mean?), “Now bear with me carefully” en “geddit?” om die gewoonlik onwillige luisteraar se aandag te hou.Tog kon Ingrid ook boeiende staaltjies vertel, soos die een wat verewig is in die grafiese kortverhaal Maxie's Revenge: An Illustrated Short Story wat in biblioteke in Bloemfontein, Johannesburg, Kaapstad, Pietermaritzburg en Pretoria beskikbaar is. Dié publikasie het in Junie 2004 deel uitgemaak van ʼn uitstalling van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, met die titel: Sequential Art – comics and picture stories. Naweek-aktiwiteite het hoofsaaklik die speletjie “Yatsi” en die kyk van video’s behels. ʼn Gunsteling tydverdryf van Broer op Sondae was om pinball in kafees te speel. Saterdagaande is daar gewoonlik ʼn draai by die gay klub gegooi hoewel Me C nooit haar gesig daar gewys het nie en Broer dus in daardie tyd nie saamgegaan het nie. Van die meer verfynde besoekers aan Skinnerstraat was bekend met al die belowende jong skrywers en digters van Pretoria. Op ʼn stadium het Ailsa, Koos, Pierre en ek ʼn gedigtevoorlesing in ʼn kunstenaarskolonie, Rondegeluk, ʼn sonderlinge klein woonstelkompleks, bygewoon. Ailsa se indrukke daarvan word in haar gedig Insight and Execution* weergegee:
  • 10. 10 Insight and Execution For Pieter Let’s get together, you know I enjoy it so. To rip them apart, not really the art, but the people that are new at any old do. It’s hysterically funny, isn’t he a bunny? And that one there, has no hair! We should spend more time together, not in the heather. We drink from the same cup, so we can send them all up.
  • 11. 11 Die huis in Skinnerstraat is netjies gehou deur die huiswerkster, Onica, wat in die agterplaas gewoon het. Mens sou nooit verwag dat dit ʼn Boheemse dagganes was nie weens Onica se vlytige werk. Dit was lekker om met Onica in die kombuis te gesels. Broer se pa was maar altyd met semi-klandestiene besighede bedrywig. Op ʼn keer het ek saam met Broer sy pakhuis besoek, waartydens hy onophoudelik winde gelaat het en dan ʼn onsigbare Khoisan daarvoor blameer het. Selfs Broer was verleë daaroor. Sondagaande het Me Sharon C en Broer by haar pa en sy vriendin blou films gaan kyk. Tot heden en vandag toe skok dié feit my. Broer het oor ʼn motorfiets en ʼn kragtige motor beskik wat moontlik deur haar pa help betaal is. Lank voordat dit mode was, het Broer reeds aan akute padwoede gely. Om saam met haar te ry, was ʼn nagmerrie van verbale “jou fokken poes’e” en vingergebaar “fokjou’s” en selfs meer aggressiewe optredes. Broer het haar motor soos ʼn wapen ingespan. Sy het selfs nie daarvan weggeskram om die polisie uit te tart nie. Op ʼn keer het Pierre saam met Broer en Ailsa gaan pizza koop. Op pad terug na Pierre en Richard se woonstel naby die polisiehoofkwartier in Polwin Flats het hulle ʼn “hot box” in die motor gemaak – dagga gerook met vensters toe. Voor hulle het ʼn polisievangwa te stadig na Broer se sin gery. Sy steek toe die vangwa verby, swaai daarvoor in en ry op ʼn slakkepas voor hom om die bestuurder te irriteer. Daarop het die ligte begin flits en sirene aangegaan, waarop Broer teen ʼn helse spoed weggetrek het met die vangwa agterna. By Polwin aangekom, het Broer eenvoudig netjies geparkeer terwyl die vangwa met skreeuende bande stilhou. Ewe kalm het Broer vir Pierre aangesê om die pizzas na die woonstel op te neem, terwyl sy die probleem met die polisie uitstryk. Ailsa het saam met haar op die sypaadjie gewag. Vyftien minute later het die twee van hulle ewe vrolik by die woonstel op die 17de vloer ingestap. Want Broer was gaaf en innemend. Heelwat later het Ailsa, Broer en Pierre by ʼn perspexfabriek in Mitchellstraat wat neontekens vervaardig het, gewerk. Pierre het ontwerpe gedoen, Ailsa het die fyn afmetings op die gevorderde masjinerie ingestel en Broer het die meeste van die snywerk uitgevoer. Etenstye het hulle in die agterplaas op die dak van ʼn stoorkamer gesit en dagga rook. Op daardie stadium het broer by ʼn getroude paartjie in die voorstede gewoon. Haar vriendin, die vrou, se naam was Tannie. Dis waar Broer haar voorliefde vir Lexotan opgetel het. Sy het ses per dag geneem, saam met Tannie dagga gerook, etenstyd weer dagga gerook, en natuurlik saans ná werk nogmaals gerook en meer Lexotan geneem.
  • 12. 12 Van die dak af was daar ʼn wye uitsig. Soms wanneer ʼn mooi vrou in die straat daar onder verbygestap het, het Broer haar vuiste gebal en rukbewegings met haar heupe uitgevoer terwyl sy haar bewondering uitspreek met: “Check daai mooi cherrie.” Die eienaar, meneer T, het uitstekend met Ailsa oor die weg gekom maar was skrikkerig vir Broer. Hy het ʼn kaalkop gehad en Broer het hom “Chrome Dome” en “Vleiskuif” gedoop, benamings wat sommer vinnig deur die ander fabriekswerkers oorgeneem is. Die aristokratiese Me C was teen daardie tyd vergete dus het Broer gereeld die gay klub in Potgeieterstraat saam met die ander vriende besoek. Daar was ʼn ruim parkeerterrein langs die klub, teenaan ʼn oop stuk veld. Een aand moes Pierre gaan piepie maar die toilette was beset dus het hy besluit om dit aan die ver kant van die parkeerterrein te doen. Broer het saamgestap. Om een of ander rede, moontlik dronkenskap, het Pierre op sy hurke gaan sit en piepie. Nie Broer nie. Nadat sy haar broek en pantie tot op die enkels afgetrek het, het sy haar middellyf ver vorentoe uitgestoot en daarin geslaag om vorentoe, soos ʼn man, te piepie. Maar om tot die vroeë 1980s en haar daggahandel terug te keer. Dit was onwys om die huis ʼn afsetpunt te maak want die kleinhandel het gaandeweg al hoe meer klante aangetrek, en vanselfsprekend al hoe meer onbekendes. Ek was in die weermag maar het omtrent elke aand met Ailsa oor die foon gesels. Op ʼn keer kon ek die aand geen antwoord kry nie, wat my nogal bekommer het. Die volgende dag skakel ek toe van die werk af en op my navraag, antwoord Onica: “Hy’s ammal gavang.” Weens die jaloesie van ʼn gay dametjie, ene Camel, het die polisie op ʼn weeksaand op die huis in Skinnerstraat toegeslaan. Camel was op die beeldhoudster verlief wat intussen ʼn verhouding met Ailsa aangeknoop het, ʼn verhouding wat jare geduur het totdat Ailsa eindelik deur ʼn Regter vervang is. Soos die (on)geluk dit wou hê, was almal behalwe Me C daar… ook die kunstenaars en dogters van die Waterkloof aristokrate. Wat seker ʼn goeie ding was, want hul ouers het, toe hulle daarvan te hore kom, onmiddellik hul kinders uit die tronk gekry. Broer was die langste daar – twee dae. Behalwe die skok was daar nie werklik ernstige reperkussies nie. By die hofsaak is almal met waarskuwings laat gaan behalwe Broer wat haar ʼn opgeskorte vonnis en ʼn paroolbeampte op die hals gehaal het. Die daggarokery het natuurlik nie opgehou nie maar meer diskreet plaasgevind. Die eintlike doring in Broer se vlees was die parooldame wat tydens die eerste ontmoeting ʼn onderhoud met haar gevoer het. Moontlik was dit ʼn tipe begripstoets, want een van die vrae was wanneer Jan van Riebeeck aan die Kaap voet aan wal gesit het. Broer was eers verontwaardig en later rasend van woede oor daardie vraag, vir weke lank.
  • 13. 13 Ek onthou nog hoe sy daaroor uitgevaar het. “Ek weet die fokken Hollander het in die 17de eeu hier geland maar wat de moer het dit met my lewe te doen? Kort daarna het Ailsa die gebeure netjies in ʼn gedig* saamgevat: The Big Bust Them came, what a beautiful frame, them stripped us of our dignity. On the wall we read graffiti. Food for thought, don’t you think we ought to find something like legal advice. What’s the use, what a deuce of a thing to happen to someone who doesn’t believe in the system anyway.
  • 14. 14 III Elvis van Athos 1978 was die eintlike jaar van Disco in Suid-Afrika en Athos in Pretoria was ’n tempel daarvan. Aan die westekant van Pretoria se middestad, naby waar Schoeman- in Potgieterstraat doodloop, was die klub in ’n snags verlate area geleë. ’n Gang wat eindig in ’n stel trappe het toegang tot Athos verleen. Wanneer jy deur die hek stap, het ’n magiese wonderwêreld rondom jou ontvou. Eers het die swart en wit dansvloer jou opgeval, en soos jou oë aan die disco-ligte gewoond raak, sien jy die tafels en stoele en aan die agterkant ’n verhogie met nóg sitplekke wat ’n ruim uitsig oor die dansvloer bied. Daarna, onwillekeurig, merk jy die kleurvolle mense op. Tipes wat jy nooit in jou ergste koorsdrome as inwoners van Pretoria sou kon indink nie. Flambojante drag queens, soos die lang blonde Penny en die statige Mary wat daardie jaar as Mej Athos gekroon is. Uitspattig geklede ander queens maar ook mooi, fris jong boerseuns in denim en T-hemde of frokkies. Straight vriende wat aan die pret kom meedoen, veral kuns- en dramastudente van Tuks. Selfs ou mense – ouers of grootouers van die klubgangers. En dan was daar die lettas… beeldskone lipstif-lettas, weermaglettas van “normaal” tot baie butch en lywig, te kus en te keur. Aan rare spesies het Athos nooit mank gegaan nie. Die klub was die speelplek van Iskor-kraandrywers en kunsdosente, van hoere en geneeshere, van jollers uit Faerie Glenn en Queenswood sowel as Daspoort, Danville en Proklamasieheuwel. Onder hulle was daar spesies waarvan dit onmoontlik was om die geslag te bepaal: skraal, lenige tipes wat jou aan ʼn Patti Smith in haar tomboyfase herinner het. Maar wat my verbeelding summier aangegryp het, was die ryke verskeidenheid lesbiërs: Groot, klein, rond, lank, skraal en natuurlik die gesofistikeerde lipstif-tipes. Om heeltemal eerlik te wees, het die butch lettas my die meeste geboei ten afkeur van my gay mansvriende wat my teen hulle vermaan het. Dit was skadelik vir ʼn mens se beeld. Hier het jy sommer drie jaar se grootste disco-treffers in een aand geniet. Onder die immergroen dansvloergunstelinge was Giorgio Moroder se hipnotiese From Here To Eternity, Grace Jones se risqué I Need A Man, Laurie Marshall se erotiese We Will Make Love, die Michael Zager Band se bekorende Let’s All Chant en die immergewilde I Feel Love van Donna Summer. Vroegoggend so twee-uur word die klub in blou lig gebaai vir die ritueel van Grace Jones se romantiese La Vie en Rose, waarop die lettas “close” gedans het. Soms komieklik wanneer albei dikketjies was sodat hulle vooroor moes buk om mekaar te omhels, soos in die geval van Celia Pampoenstreep en haar ewe lywige minnares. Maar Pampoenstreep was vriendelik en minsaam. Die ewe dikke maar langer Toska Ossewana wat as beskutte arbeid by die staatsdrukker gewerk het, was uitspattig en “common” maar ook onskadelik. En die slanke lipstif-letta Lynn Polse wat dikwels in die gang na die toilette staan en ween het, sou g’n moffie leed
  • 15. 15 aandoen nie. Die snymerke op haar polse was te wyte aan ander lesbiërs se ongevoeligheid. Soos die blonde Marjorie, wat haar hart gewetenloos gebreek het. Daar’s egter altyd uitsonderings… karakters by wie geweld altyd ʼn opsie was indien jy hul vriende sou beledig of enige gebaar maak wat as vyandig beskou kon word. Sulke mense was Shane en Elvis. Daar’s nooit konsensus verkry oor Shane se regte naam nie. Sommige beweer dit was Shana, ander Shano. Moontlik was haar doopnaam Shana wat toe vir die klub se doeleindes na Shano aangepas is en eindelik na Shane verkort is onder invloed van die destyds gewilde TV-reeks Shane. Sy was skraal en seningrig soos die sangeres KD Laing, en donker, met pikswart kort hare en ʼn blas vel. Haar voorkoms het ʼn element van sletterigheid bevat en haar houding was dié van ʼn roofdier. Jy het sommer aangevoel dat jy wye draaie om Shane moes gooi. Haar vriendin Elvis, daarenteen, was groot en dik. ʼn Blok van ʼn vrou met ʼn ronde maangesig, en bedonnerd. Elvis het dag en nag kortbroek khaki safaripakke gedra met ʼn swart kam in die kous. Haar groot vriendekring het beide letties en moffies ingesluit, almal uit die westelike voorstede van Pretoria. Jockie was een van hulle. Sy is so genoem omdat sy Jockie onderbroeke gedra het. Daar is geglo dat beide Shane en Elvis hyskraandrywers was maar eintlik was sy ʼn busdrywer. Sy het ook op ʼn stadium sekere take in Club Athos verrig, waaronder die skoonmaak van toilette en vervang van toiletrolle. Shane en Elvis het hul sigarette in die buitenste vou van hul opgerolde moue byderhand gehou. Elvis kon lekker grootpraat. Het onder andere vertel dat haar darts 5 kg weeg. Ja, veerpyltjies was besonder gewild in dié geledere. Elvis-hulle het ʼn ritueel gehad om hul manlikheid te bewys. By 'n braai sou die butch met haar kaal hande 'n stuk van die braaivleis op die rooster afbreek en aan die fem oorhandig met die woord: "proestukkie". Net die mees ingeligtes was destyds daarvan bewus dat beide Shane en Elvis ook Bok- en Foxstrate aan die oostekant van Kerkplein bewandel het om hul inkomste aan te vul. Van Shane is dit makliker om te glo maar ʼn mens sukkel steeds om daardie sy van Elvis te verwerk. Die butch Elvis wat spitsvondighede kwytgeraak het soos: “Jy’t nog nie swiets geëet as jy nog nie tjoklits geëet het nie.” Die gevreesde Elvis wat deur almal in Klub Athos met ontsag behandel is. Die formidabele Elvis wat enigiemand sou donner wat iets leliks oor haar vriende kwytraak. Miskien was hul clientele straight mans wat rowwe ervarings nagejaag het. Ter stawing kan mens byvoeg dat albei valstande gehad het, om beter te kan suig, my kind. Onder die créme de la créme van die moffies, was niemand meer gesog as Koos nie. Dis juis hy wat my aangespreek het oor my ondeurdagte bewondering vir, en sosiale omgang met, die lettas. Die aanvallige Mary, Mej Athos 1978, en Poppie, ʼn letta wat vir die HNP gewerk het, het ʼn woonstel in Arcadia in dieselfde blok as Koos gedeel. Dus was daar volop sosiale bedrywighede by daardie woonstelblok oorkant Haaspark
  • 16. 16 in Pretoria. Synde so aantreklik en gewild, het Koos geen skaarste aan belangstelling ervaar nie. Morné was een so ʼn belangstellende, maar iemand het beweer dat Morné ʼn Clora was. Gevolglik het Koos daaroor navraag gedoen. Klieke het egter vele ore en gerugte oor navrae versprei vinnig. Hoewel daar ook verskillende tipes klieke bestaan. Neem nou maar die kliek waaraan Pierre behoort het. ʼn Streng diskriminerende slegs-moffies groep, waarin daar geen sprake van lesbiërs as lede was nie. Straight mense Ja, lettas Nee. Dalk eerder ʼn anti-letta kliek omdat ʼn mak straight wel nou en dan daarin aanvaar is. Die butch tipe letta is trouens in daardie kringe as die Antichris beskou. Hul blote bestaan het aanstoot gegee en by Athos is hulle teenwoordigheid meestal ontken en geïgnoreer. Behalwe daardie aand, toe Pierre homself nie kon keer nie. Sy groep het ʼn hele tafel beset op die verhogie met die mooi uitsig… en deel van die uitsig daardie aand was Elvis en haar minnares by ʼn tafel onder langs die dansvloer. Uiteraard het dié steurnis in die milieu-estetika ʼn rol by Pierre se optrede gespeel. Elvis, as leier van haar geïntegreerde bende lettas en mowwe, het haar verantwoordelikhede ernstig opgeneem. Soos vermeld, durf niemand ʼn skewe woord oor enige van haar bendelede uiter nie. Tydens die verloop van die aand het die gegriefde Morné die verdagte, Koos, wat saam met sy “affair” Dewald Poliesman daar baljaar het, aan Elvis uitgewys. Koos, wat bloot navrae gerig het oor Morné se Clora-wees aldan nie. Dus was daar reeds onheil in die lug maar Morné sou nie waag om Koos direk te konfronteer nie omdat Dewald Poliesman ʼn fris boerseun was. ʼn Gawe, vriendelike knaap met ʼn mooi, oop gesig maar duidelik nie iemand met wie jy sukkel nie. Die volgende oomblik tref ʼn opgerolde papiertjie Elvis teen die agterkop. Pierre, uit irritasie met haar teenwoordigheid as milieu-bevlekker het talryke missiele afgevuur en een daarvan het eindelik die teiken getref. Gelukkig het Pierre se engelgesiggie hom heeltemal as skuldige uitgeskakel. Daarby het sy akteursvaardigheid bygedra om hom selfs nog meer engelagtig te laat voorkom. Toe die toornige Elvis dus met bultende spiere en polsende nek-are daar opstaan, was Pierre die onskuld vanself. Dit was die niksvermoedende Albert langs hom wat die toorn van Elvis moes ontgeld, toe sy dié brutaal aan sy kraag opruk en toesnou: “Doen dit weer en ek bliksem jou dood!!!” Die skok en afgryse by die tafel was tasbaar, en hoewel die missiel uit daardie rigting gekom het, kon Elvis natuurlik ook nie bo alle twyfel weet dat haar slagoffer wel die skuldige was nie. Dus het sy sy kraag losgelaat sodat hy in die stoel terugval, en op haar macho manier teruggewaggel na haar sitplek. Nie lank daarna nie moes sy gaan seker maak dat alles in die damestoilette netjies en in orde was. Nou was sy egter reeds ontstoke en toe sy Koos in die gang herken – dieselfde gang waar Lynn Polse snot en trane staan en ween – as die verdagte wat haar bendelid Morné so beswadder het, was die gort gaar. Sy gryp Koos aan die bors en lig hom teen die muur op. “Het JY gesê Morné is ʼn Clora???” bulder sy in Koos se gesig. Oorbluf deur die onverwagse aanval, kon Koos geen woord uitkry nie. Weer bulder sy: “Is dit jy??? Ek sal jou vrek bliksem!!!” maar deur die genade van die voorsienigheid – net toe Koos die dringendste behoefte aan ʼn man ervaar het – kom Dewald Poliesman om die draai op die toneel af.
  • 17. 17 So gespierd soos Dewald was, was hy ook ʼn aangename, koelkop tipe en doeltreffende geskilbeslegter. In plaas van om Elvis aan te val, het hy haar grimmigheid met ʼn sagte woord afgekeer. Bowendien, ongeag Elvis se brutaliteit en gebrek aan breinselle, sou geweld haar net benadeel, het sy darem besef. Dewald se lidmaatskap van die polisiemag was alombekend. Deur die tussenkoms van die rede is ʼn aanranding en bloedvergieting dus vermy. Dewald se diplomasie het gesorg dat die saak met waardigheid aan beide kante opgelos is, hoewel Koos nog vir ʼn wyle daarna bleek om die kiewe was. Toe 2-uur egter aanbreek, die disco-ligte die klub in blou en indigo baai en die strelende klanke van La Vie en Rose die ruimte met romanse vul, het beide Elvis en haar minnares, en Koos en Dewald Poliesman, styf teen mekaar gedans. So het liefde oor geweld getriomfeer. §§§§§§§§§§§§§§§§§§