2. Inleiding
Daar is sekere hoogtepunte in mens se geheue wat net te kosbaar is om nie te deel nie.
Gebeurtenisse wat kop & skouers bo die alledaagse uittroon. My doelwit met hierdie
narratief is eerstens om herinnering te deel en te bewaar. Tweedens wil ek poog om ‘n
aantal cliches te ondermyn, veral daardie wat mense aanmoedig om te “praat” en hul
“harte teenoor mekaar uit te stort” en probleme deur “berading” op te los. Wat volg,
bewys dat dramatiese nie-verbale en minimum verbale kommunikasie veel meer kan
vermag as ‘n sinnelose gebabbel. Daar is na my mening ‘n oormaat verbale
kommunikasie deesdae. My analise van die gebeure sal bewys dat dade en nie-verbale
kommunikasie in sommige situasies voordelig is.
Opmerking oor geheue & “narratiewe”
Wat ek met die term “narratief” bedoel, is dat elke individu wat hierby betrokke was of
hiervan verneem het, dit uit eie perspektief ervaar het. En deur die jare verwerk het. Die
boeiende gebeure het 24 jaar gelede plaasgevind – hoe het die tydsverloop die verteller
se herinneringe gekleur, en waarom? Neem dus in ag dat ek nie van AL die feite
verneem het nie en geen ooggetuie was nie.
Oorsaak & gevolg
Albert* en Carel* was teen daardie tyd so min of meer 4 – 5 jaar bymekaar. Hul ruim
woonstel was in Yeoville, daardie tyd ‘n boheemse deel van Johannesburg, geleë en
het as sosiale sentrum van formaat gedien. Nie net is daar gereeld partytjie gehou nie
maar lede van hul wye en uiteenlopende vriendekringe het gereeld daar besoek afgelê.
Met baie blootstelling kom groot versoeking. Dis hoe dit gekom het dat Martin* by hulle
ingetrek het. Daar is gronde om te glo dat beide Carel & Albert aanvanklik ‘n sensueel-
romantiese motief binne die konstruk van ‘n drietal-verhouding gekoester het.
Die idealistiese “drietal” idee het egter verdamp toe dit blyk dat ‘n hegter band tussen
Carel & Martin ontstaan het. Hoe later hoe kwater … wat half onskuldig ontwikkel het,
3. het ‘n skadelike rigting ingeslaan toe Albert met openlike vyandigheid te kampe gekry
het en selfs aan verbale wreedheid blootgestel is.
Nie lank nie of die atmosfeer was gevul met botsende emosies van romanse, wellus,
verraad, ontreddering, jaloesie, woede en verontwaardiging. ‘n Kruitvat of kookpot het
ontstaan. Onder sulke omstandighede moes daar ‘n ontploffing volg.
Lank voordat Martin ‘n begeerlike item geword het, was Albert & Carel van sy mees
lojale kliënte. Martin was ‘n talentvolle ontwerper en kleremaker, en algaande het vele
van sy meesterstukke die lieflike liggaampies van Carel & Albert verfraai en hul
klerekaste gevul.
So het die storm opgebou totdat… Albert eindelik genoeg verduur het, en hy in Carel &
Martin se afwesigheid die Martin-ontwerpersklere betrag … en besef het dat dit as die
perfekte nie-verbale kommunikasiemedium kon dien.
Toe gaan hy tot aksie oor.
Hy neem so min of meer een derde daarvan, sny dit aan flarde met skêre en messe, en
heg dit aan die woonstel se binnedeure en ander houtoppervlakke met skerp
vleismesse.
Volgende neem hy nog ‘n bondel en plaas dit in die oond se braaipan wat hy vervolgens
woonkamer toe neem. Net daar het hy brandstof daaroor uitgestort en dit aan die brand
gesteek. Die vlamme het die ontwerpersklere verteer en die hele woonstel met rook,
roet en ‘n brandreuk gevul wat weke daarna nog gedraal het. Die roetbesoedelde lug
het aan die woonstel ‘n gotiese atmosfeer verleen.
Die volgende stap was om met lipstif op die slaapkamer-spieël te skryf:
“Carel loves Martin – Martin loves Carel.”
4. Vir my was dit ‘n eggo van Marianne Faithfull se lied ‘That Was The Day (Nashville)’
waar die narrateur na ‘n lang afwesigheid tuiskom net om te hoor hoe haar minnaar met
‘n ander vrou baljaar. Om aan te haal:
“So I went up the stairs/Left your keyes on the table/And I wrote on the mirror We’re
Through.”
Tevrede met alles wat hy vermag het en ten spyte van die donker rooknewels, val
Albert se blik op die oorblywende klerasie wat die dolke en die vlamme vrygespring het.
En iets skiet hom te binne.
Hy tel die res daarvan op – steeds ‘n aansienlike hoop modieuse skeppings – en steier
onder die gewig na buite. So begin hy toe die ontwerpersklere aan die armes in die
strate van Yeoville uit te deel. Straat op en straat af het hy loop en uitdeel tot die
aangename verrassing en diepe dankbaarheid van die minderbevoorregte ontvangers.
Toe het sy hart tot ruste gekom.
Nadraai
Die harte van Martin & Carel het egter met onrus die nuwe binneversiering by hul
terugkeer gadegeslaan. Die rook, die roet, die reuk, die verminkte hemde en broeke
vasgelem teen die deure … en die boodskap op die spieël.
Tussen hulle & Albert het geen verbale kommunikasie plaasgevind nie.
Carel en Martin het onder mekaar gefluister.
Martin het dieselfde dag nog verdwyn en sy eie blyplek daar naby gekry.
Carel het moontlik nog ‘n rukkie rondgehang maar – ek skat binne so twee dae –
verdwyn.
Dis belangrik om daarop te let dat Albert & Carel nooit die gebeure bespreek het nie.
Nie ‘n enkele woord is gerep nie.
5. Albert het na ongeveer twee dae op sy sesde sintuig staatgemaak en wragtig Martin se
woonplek uitgesnuffel. Presies hoe die volgende afgespeel het – daar moes tog seker ‘n
mate van verbale kommunikasie gewees het – weet ek nie. Carel is egter saam met
Albert terug na die woonstel waarvan die voorkoms so drasties deur die emosionele
storm verander is.
Soos te verwagte met hierdie dinge van die hart, was daar in die daaropvolgende weke
nog ‘n paar klein voorvalletjies van kontak tussen die twee, maar eindelik het Martin
heeltemal uit Carel & Albert se lewens verdwyn.
ʹ
n Moreel-Filosofiese Evaluering
Albert & Carel het ‘n gemeenskaplike begroting bedryf wat die klere dus albei se
eiendom gemaak het. Hoewel nie wenslik nie, het Albert dus oor die reg beskik om 50%
daarvan te vernietig. Hy het egter 66.6% vernietig deur verbranding en versnippering.
Die skade (steekmerke) aan die houtoppervlakke was nie te opsigtelik nie en is waar
nodig herstel.
Van al die nadelige nagevolge het die rookreuk die langste geduur.
Vanselfsprekend is die lipstif-boodkap sonder veel moeite afgevee.
Ek is wel bekend met die gevaar verbonde aan die redusering van emosies en heftige
gevoelenthede tot blote syfers. Tog moet daar vermeld word dat Albert dus 66.6% van
hul gemeenskaplike eiendom vernietig het, waarvan 33.3% Carel se (helfte)-aandeel
was. Met ander woorde, twee derdes is vernietig, en Carel se aandeel van die 2/3 was
die helfte (50%).
My oordeel hieroor is dat dit ‘n redelike prys was om te betaal vir Albert se emosionele
lyding.
6. Die dramatiese destruksie van bruikbare goedere van hoë estetiese gehalte kan nie
goedgepraat word nie. Maar net soos by die sogenaamde “crimes of passion” waar
kompulsiewe hartstog as versagtende dryfveer beskou word, word dit op daardie
gronde ter syde gestel.
In al die mensdom se spirituele tradisies word die individu aangemoedig om hul oor die
armes te ontferm, dikwels met ‘n aanbeveling van 10% van die individu se inkomste.
Albert het egter 33.3% van die klere onder die armes uitgedeel.
Alles in ag genome, weeg dit vir my die swaarste.
Dis merkwaardig dat in so ‘n vlambare gemoedstoestand, hy nie van die
minderbevoorregtes vergeet het nie.
Die vrees wat sy optrede by twee individue ingeboesem het, moet dus opgeweeg word
teen die vreugde en verligting wat hy aan die armes gebring het.
Daarbenewens bring mededeelsaamheid en daadwerlike optrede om jou naaste te
ondersteun, sy eie beloning, een waarvan kalmte in die gemoed is. Albert se goeie
daad het dus sy eie wrokkigheid tot bedaring gebring en die turbulensie stilgemaak
soos die storm destyds op die See van Galilea.
Boonop is die verhouding gered.
Ek som die oordeel as volg op:
Meer goed as kwaad het daaruit voortgevloei. Albert word dus vrygespreek van alle
morele skuld en verdien alle redelike mense se bewondering.
Voortvloeiende voordele
Die algehele stilswye oor die voorval (tot vandag toe) bewys dat ‘n gepraat, ‘n geneul, ‘n
gekla, ‘n gekerm en die rondslinger van beskuldigings totaal en al uitgeskakel KAN
7. word in verhoudingsgeskille. Vir my is hierdie miskien die mees aanprysingswaardige
element in die sage.
Boonop bied die insident ‘n goudmyn van insigte in die sielkunde en simboliek.
Sielkunde & Simboliek
Eerstens bewys dit dat ‘n intens dramatiese en indrukwekkende gebaar wel die doelwit
kan bereik, te wete, om ‘n ongewenste derde persoon uit ‘n verhouding te verwyder. So
‘n unieke, innoverende gebaar van groot impak beskik oor die krag om ‘n ongewenste
infatuasie te ondermyn.
Die fassinerende simboliek reflekteer sekere diepgewortelde temas in die mens se
onderbewuste, te wete offerande en die argetipe van die held wat die monster uitwis.
Die eerste derde (wat opgesny en met messe deurboor is) is ‘n uitleef van die oertema
van die held wat die draak/vampier uit die weg ruim. Die wapen is gewoonlik ‘n swaard
(Sint George en die Draak, Dawid en Goliath). Hierdie verteenwoordig dus die
Offerande of die slagting in die Proses van Offerande.
Die klere wat verbrand word, verteenwoordig die Brandoffer wat op die altaar tot as
verbrand word as offerande aan die gode, of die verslinding deur vuur in die Proses van
Offerande. Dink maar aan Elija, Jezebel en die Profete van Baal op Berg Karmel.
Die uitdeel van die klere verteenwoordig die deel van die offerande wat aan die
behoeftiges toegewys word, m.a.w. daardie deel wat volgens die godsbevel aan die
dienaars gaan.
Nawoord
My innige dank aan Albert vir sy destydse optrede wat my van soveel insigte, en soveel
opwindende herinneringe om te koester, voorsien het.
* Name is verander.