1. Inspirasielangsaan: ClaudetteMichèle Meyer
Helde het nie altyd brëe skouers nie. Daar word ook nie altyd
standbeelde in hulle eer opgerig nie. En meer dikwels as wat jy
sal weet woon hulle sommer straat-af, om die draai van jou.
Glo dit as jy wil, ek ken ‘n held wat ‘n haarkapper is. Sy is kleiner
as haar dertienjarige seun maar het die hart van ‘n leeu. Haar
knus tuissalon in die ooste van Pretoria is vyf dae ‘n week oop.
Op Maandae en Woensdae tot Saterdae maak sy vrouens mooi
en mans netjies. Op Sondae neem sy haar kinders getrou kerk
toe. Tussendeur skilder sy, ‘n passie wat verweef is met haar hel-
de-status.
Dis wat die haarkapper op Dinsdae doen wat my fassineer. Dan
klim sy in haar stasiewa en ry na Paul Jungnickel Huis vir ges-
tremde volwassenes op Lynnwoodweg. Nie omdat sy moet nie.
Omdat sy wil, nee, nie kan wag nie, om haar weeklikse kuns
werkswinkel aan haar 80 geliefde gestremde ‘studente’ te gaan
aanbied.
Omring deur haar gretige kuns-leerders by die tehuis vind Clau-
dette diep vreugde wat die meeste van ons nie sal verstaan nie.
Sy klink verbaas toe ek vra om oor haar te skryf. Sy lag en sê: ‘’Ek
is nie ‘n held nie, my groeplede is!” Sy voeg dadelik by dat sy ‘n
getroue vriendin, Amy, het wat haar hande sterk maak. Haar kerk
is ook grootliks betrokke by ondersteuning aan die projek.
Week na week spandeer sy kosbare ure met haar groep en help
hulle om kuns te skep wat op soveel maniere hul lewens verreik.
Elke groeplid se mate en graad van gestremdheid wissel. Baie
is in rolstoele en sommige is te swak om ‘n kryt of kwas self te
kan vashou. Elkeen kry aandag, en Claudette sê onomwonde dat
al behoefte wat haar groeplede werklik het, is om raakgesien te
word, om te kan liefhê en om liefgehê te word.
‘n Onlangse projek was die skep van voëlnessies op papierborde.
Ek kyk na ‘n foto van ‘n stralende kunstenaar wat haar uitgeknipte
karton voëltjie sitgemaak het op ‘n sagte nessie van watte en
stukkies tou. Haar gesig lag en trots wys sy haar werkie vir die
kamera. Op die foto is net Claudette se hande sigbaar.
Ek besef dis wat ‘n held is. Hande. Hande sonder ‘n ego.
Ja, daar is baie rowwe dinge wat gebeur, en ja, die wêreld is ‘n
wilde plek. Maar die wêreld is nog okei, want af in die straat bly ‘n
held wat hare sny.